Die konsep van brood varkies is heel eenvoudig en tog so slim uitgedink. Terwyl jy braai of potjie maak kan die varkie warm word en ‘n broodjie gebak word. Die standaard Brood varkies van Eureka Mills neem panne van tussen 19-30 cm in lengte en 7-10 cm in hoogte. Hierdie lewer dus ’n heerlike groot familie brood. Om verder die konsep van ’n Brood varkie te verduidelik kan mens so vêr gaan om groente-, aartappel- en pap terte hierin te bak. Die hitte in die wande van die varkie word eweredig van bo en onder versprei wat dus egalige bak tot gevolg het. Maak asb. seker jy lees eers sorgvuldig deur die teks om die voorbereiding en gebruik van die varkie te verstaan. Mag jy sommer heerlik bak met Eureka se wonderlike produkte. Dink net vir ons kampeerders watter heerlike kampkos kan jy maak…ja, ek het selfs al Roly-poly en Malva poeding in haar gebak! Geniet!

PS: Brood varkies kan aanlyn by Eureka Mills bestel word en hul lewer landwyd af. www.eurekamills.co.za

1 kg (7 k) koekmeel, steen gemaal, Eureka Mills
10 ml (2 t) sout
10ml (2 t) witsuiker
1 Kitsgis, sakkie (14 g)
50 ml (4e) olyfolie
50 ml (4e) melk, lou warm
600 mℓ water by kamertemperatuur

Voorbereiding van Brood varkie:
Neem kole wat reeds gloeiend is en plaas ongeveer 3 kole weerskante bo-op die varkie en dan ook 3 kole onder die varkie weerskante. Doen hierdie ongeveer 30 minute voordat jy gaan bak.

Onthou om ysblokkies en ook waterbottel met spuit byderhand te hou om die varkie effens af te koel en stoom vir die brood te genereer.

Voorbereiding van deeg:
Los die gis en suiker in 250 ml sterk water op en laat staan 5 minute totdat skuim vorm. So weet jy ook dat die gis goed is.

Sif meel en sout saam en meng goed. Vryf die olyfolie in die meel in totdat dit nie meer sigbaar is.

Voeg nou die oorblywende water en melk by meel mengsel en knie vir 10 minute of todat die deeg los kom van jou hande en die kante van die skottel

Laat deeg rus en rys tot dubbel die volume, ongeveer 30 minute. Knie af. Verdeel deeg en maak op vir lang brode. Ek rol deeg effens langwerpig uit om die lengte van die pan te kry. Rol dan op en sit met naat na onder in die pan en los om dubbel die volume weer te rys.

Plaas 3 ysblokkies in die brood varkie, sit pan in en maak toe, na 15 minute maak weer oop en spuit die brood met water en maak weer toe. Bak nog 15 minute en haal uit om af te koel.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, kampkos klas
Hoeveelheid: 2 brode van 19cm