
Hierdie is nog van die outydse soort Sagopoeding resepte met die heerlike meringue lagie oor. Ek hou daarvan om soms bietjie ‘n kinkel by die nagreg te voeg, deur die appelkoos konfyt te vervang met bessie soorte konfyte vir die tussen lagie. Die geure wat uit die oond kom, laat jou aan jou neus daarheen gelei word, onweerstaanbaar.
200ml Sago
500ml Melk
500ml Water
1ml Sout
125ml Wit suiker
2ml Karamel of Amandel geursel
25ml Botter
3 Eiergele
Kook die sago, water en melk saam oor matige hitte, totdat die sago deurskynend is. Indien tyd nie ‘n faktor is nie, week die vorige nag die sago in die water, want dan kook dit baie vinnig deurskynend en voorkom aanbrand. Net soos met melktert maak of vlabasisse, smeer ek die kastrol se bodem met olie of botter om aanbrand te voorkom.
Voeg 125ml Suiker, sout, geurmiddel en botter in die warm sago in. Roer goed deur sodat die suiker kan oplos. Laat die mengsel tot lou warm afkoel. Voeg nou die eiergele by en roer goed deur.
Bak die sago mengsel by 180℃ vir 25 minute. Terwyl die mengsel bak kan jy die laaste 10 minute die meringue begin voorberei.
Meringue
50ml Suiker
3 Eierwitte
Knippie Kremetart
50ml Appelkoos konfyt
Klits die eierwitte in ‘n glas- of vlekvrye staal bak, maak seker die bak is nie olierig. Vee liefs die bak met asyn lappie uit om al die ekstra olierigheid wat dalk daar kan wees te verwyder. Dus, klits die eierwitte tot skuimerig en voeg die kremetart by en klits tot stywe punt stadium. Voeg die suiker by en klits weer goed deur.
Smeer die appelkoos konfyt oor die gebakte sagomengsel…ek is mal oor appelkoos konfyt en smeer dit nie op nie, maar sit klein klontjies oral sodat dit self kan smelt wanneer dit gebak word.
Skep die meringue op die appelkoos konfyt en bak verder onder die grill van die oond totdat die puntjies begin verbruin.
Bedien warm of koud.
Bron: Sandra Bryce-Borthwick, 2016-01-23
Hoeveelheid: 19 x 23 cm Pyrex bak
Hierdie outydse sagopoedig bly my gunsteling nagereg.My tantes hier in die Overberg het die appelkooskonfyt deur die meringue gevou.
My gunsteling nagereg!My tantes hier in die Overberg het die appelkooskonfyt deur die meringue gevou,heerlik!
Wow dankie dis hoe my ma se sago was?
Hallo Adriaan, sjoe dit is mos nou ‘n oulike idee. Volgende keer as ek weer Sago maak gaan en hierdie wenk probeer. Dankie Annelien
Annalie, daar is niks so heerlik soos onthoukos nie…trooskos, geniet! Groete Annelien
My dogter, lankal uit die huis, het eendag gepraat van my ‘commin’ kos. Ek was so verontwaardig want ek weet ek nie beste kok op aarde maar om darem my kos ‘commin’ te noem was een te veel. Eers ‘n rukkie daarna het ek uitgevind sy bedoel eintlik trooskos en nie ‘commin’ in die sin van soos ons weet wat dit beteken nie. Die woord ‘commin’ het gebly en eintlik het net ek en sy geweet wat ons ‘commin’ kos beteken, en dis ‘n spesiale woord vir ons. Mag reeds lank uit die huis wees maar ma se ‘commin’ kos bly blykaar nog steeds die beste.
Ek hou ook van onpretensieuse eerlike heilsame kos…dus is ek ook commin! Lief jou kind want sy weet waar haar wortels is. xxx Annelien
Ek het vir jou epos gestuur met kontak details vir die buiteland. Groete Annelien
HI Annelien. Ek wil graag weet, hoe sal ek te werk gaan as ek die sago in individuele porsies wil bedien in glas nagereg glasies wat ek bang is nie in die oond teen 180grade sal kan bak nie. Enige raad asb
Helga,
Ek stel voor jy maak die sago so dat dit klaar gaar gekook is soos die resep aandui. Dan moet jy maar die meringue maak en met ‘n gas vlam bruin maak en voila.
Groete
Annelien