Wanneer laas het jy ‘n heerlike klam en ryk kolwyntjie teëgekom wat letterlik net twee stappe is, met geen mengers wat uitgehaal word, min skottelgoed? Wel, hier is die antwoord! As jy die kolwyntjie oopbreek terwyl dit so louwarm is, loop daar nog sjokolade uit die holtes en die reuk is absoluut onweerstaanbaar. Veral as jy soos ek…reeds by nommer drie moet briek aandraai, die Filistyne moet ook kry! Eureka Mills se steengemaalde koekmeel lewer hierdie heerlike gebak.

Hierdie beslag is vrieskas vriendelik:
1. Alle droe bestanddele van hierdie resep kan saam gemeng word en gevries word vir 3 maande.
2. Alle vloeistowwe van hierdie resep kan ook saam gemeng word en gevries word vir 3 maande.
3. Die beslag kan ook bevries word, maar moet sonder die byvoeging van die rysmiddels, koeksoda en bakpoeier gedoen word. Die beslag moet eers by kamertemperatuur wees en sprinkel dan die rysmiddels oor (maak seker die rysmiddel bevat geen klonte) en roer goed deur en bak dadelik.

310 g (2 k + 2 e) koekmeel
90 g (¾ k) kakao
15 ml (1 e) bakpoeier
2.5 ml (½ t) koeksoda
knippie sout
300 g (1 ½ k) sagte bruinsuiker (treacle sugar)
115 g (½ k) botter, gesmelt of sonneblom olie
500 ml (2 k) karringmelk
2-3 eiers
150 g splinter sjokolade

Voorverhit oond na 180 ℃ en voer 12 kolwyntjie pannetjies met papiertjies uit. Moenie die papiertjies spuit nie, dit sal lostrek nadat dit gebak is. Die mengsel is reeds baie ryk.

Sif koekmeel, kakao, bakpoeier, koeksoda en sout saam. Meng die bruinsuiker met botter, karringmelk, eiers en 100g van die sjokolade.

Voeg die droë bestanddele by die vloeistowwe en meng met draadklitser totdat al die bestanddele gemeng is.

Skep in kolwyntjies, sprinkel met oorblywende sjokolade splinters en bak vir 30 minute tot gaar, haal kolwyntjies dadelik uit pan en laat effens afkoel. Bedien louwarm.

Variasies:
Karamel muffin: vervang kakao met dieselfde mate in mielieblom, vervang sjokolade met 100g karamel splinters, 100 g fyn neute by, 1/4 t kaneel, knippie van die volgende: gemmerpoeier, neutmuskaat, witpeper. 5 ml karamel geursel
Blondie: vervang kakao met mielieblom, gebruik melksjokolade splinters en 5 ml karamel geursel.

Bron: Annelien Pienaar, Sjokolade klas, 2016
Hoeveelheid: 12 medium grootte kolwyntjies