Vrieskas vriendelike resep gebak en ongebak. Vir my gesin die perfekte idee van “Kits-kos” wat bedien word met ‘n heerlike groen tuinslaai en vrugtesap. Kleinste Filistyn van my noem hierdie “Pizza-paai”!

Kors:
100 g cheddar kaas, gerasper
100 g botter of bakkers margarien, geraper
100 g koekmeel

Plaas in voedselverwerker en maak fyn soos broodkrummels. Druk in 19 cm x 25 cm oondvaste pan. Plaas eenkant en voorverhit oond na 180 ℃.

Vulsel:
250 g sampioene, gesnipper
1 medium ui, fyngekap
1 t knoffel
500 g cheese griller worsies, wieletjies gesny
45 ml olyfolie of sonneblom olie
6 eiers
½ t gerookte paprika
1 t gedroogde origanum
3 e koekmeel
250 ml room
45 g bloukaas (opsioneel)

Braai uie, sampioene in olyfolie totdat al die vog van die sampioene uitgebraai is. Voeg dan die knoffel by en braai vir 1 minuut. Haal van plaat en voeg die worsies by.

Meng koekmeel met room en roer goed deur met draai klitser sodat meel nie klonte maak nie. Voeg eiers, paprika, origanum, sout en peper na smaak, en gekrummelde bloukaas by en meng weer deeglik.

Voeg die afgekoelde worsies by die eiermengsel en giet in voorbereide kors. Bak vir 45 minute tot gestol. Bedien koud of warm.

Hierdie resep bak ook perfekte individuele porsies maar verkort die baktyd na ongeveer 25-30 minute by 180℃.

Porsies: 6 persone
Bron: Annelien Pienaar, 2017, www.bosenbergguestfarm.co.za