Ek weet nie van julle nie, maar rissies is nou die een groente wat by my oorneem en baie vruggies produseer. Capsicums is geneig om ook so welig te groei. Die kleur is een van die goed wat my seker die meeste opval en ek hou daarvan om kleurvolle kos voor te sit. Jalapino’s, rissies, capsicums, soet rissies werk puik met hierdie3 resep.

Hierdie resep is geskik vir alle rissie families.

Bestanddele

  • 1 liter (4 k) water
  • 500 ml (2 k) witasyn
  • 300 g (1 ½ k) witsuiker
  • ½ t sout
  • 15 ml (1 e) piekel speserye
  • 15 ml (1 e) geel mosterd saad
  • 15 ml (1 e) knoffel
  • 1 t dill gedroog

Metode

Vir Rissies: Dompel die vruggies met stingels en al in kokende water vir letterlik 2 minute. Ons doen dit om die kleur van die vrug te bewaar en te voorkom dat die vruggies ouvrou plooie maak…en krimp in die bottel. Plaas dadelik in koue water om die kookproses te stop. Nou is dit maklik indien verkies om die stingels uit te trek.

Vir Jalapino’s en Soetrissies: rooster oor die kole of gas vlam. Strook die skille af en spoel skoon en pak in gesteriliseerde flesse.

Was en steriliseer die bottels. Hou die bottels warm in die oond by 120 ℃.

Kook al die bestanddele saam vir 10 minute. Pak solank al die vruggies dig teen mekaar in die bottels en giet die warm pekel oor die vrugte. Bottel dadelik.

Rak lewe: 3 maande, in die yskas: 6 maande

Wenk: Oorblywende sous kan in yskas gestoor word vir 3 maande en weer opgekook word en weer gebruik word.

Hoeveelheid: 8 x 375 ml botteltjies