Les
1. Rog meel het ‘n ongelooflike lae gluten inhoud en word in die industrie vermeng met koringmeel om dit ‘n beter tekstuur en hoër rys te gee. Daarom moet jy seker maak dat wanneer jy rogbrood koop vir jou kind wat allergies is vir gluten, jy moet vra of dit vermeng is met koringmeel.

2. Die verhouding koringmeel tot rogmeel verskil maar ek gebruik ‘n 40% koringmeel tot 60% rogmeel, soms 50/50.

3. Suiwer rogbrood se tekstuur is swaar en dig. Daar word ook ‘n suur bygevoeg om die rogmeel nie so klewerig te maak nie.

4. Suurdeeg rogbrood…wanneer ons broodbak met ‘n plantjie, is die smaak iets wat jy net eenvoudig nie kan vergelyk met die wat met gis gebak word. Dus, as jy ooit ‘n suurdeeg klas kan bywoon by my…sal jy verstaan wat die invloed van langer prosesse op die meel het. Alles ten doel om intenstinale gesondheid te bevorder.

Resep
250 g rog meel
250 g koekmeel of steen gemaalde witbrood meel
10 ml wit asyn
1 sakkie kits gis
15 ml bruinsuiker
15 ml heuning
15 ml kakao
15 ml black strap molasse
5 ml sout
10 ml komynsaad of karwei saad (opsioneel)
250 – 300 ml sterk lou water

Metode
1. Sif die droë bestanddele behalwe die gis saam. Voeg laaste die gis by.

2. Voeg die water by die meel mengsel en werk eers met hand deur, begin dan die deeg te knie, hier kan jy dit met die hand doen of met die klitser (maak seker jy gebruik die deeg knie spaan).

3. Jy sal ‘n stywe deeg kry. Pas die vog volgens dit aan. Knie die deeg vir 10 minute totdat dit los kom van die kante en ook glad en elasties word.

4. Laat die deeg vir 30 minute rus. Knie die deeg af en vorm dit.

5. Die rogdeeg kan in ‘n ronde bak wat met ‘n bakkerslappie uitgevoer is en met koekmeel besprinkel is, geplaas word vir die 2de rys om dit ‘n mooi vorm te gee. Sodra dit klaar gerys het kan jy dit op ‘n bakplaat uitkeer en die bokant met ‘n baie skerp messie patroontjies sny. Indien jy nie ‘n bakkerslappie het kan jy die deeg net vorm in ‘n langwerpige deeg oprol en met die naat na onder in’n gewone broodpan plaas.

6. Laat weer dubble die volume rys, kan ongeveer 30 – 60 minute neem afhangende van die temperatuur in die kombuis.

7. Bak by 180 ˚C vir 25 – 30 minute met ‘n bakkie water onder in die oond om stoom te produseer om te voorkom dat die brood hard en droog word.

1 ronde of langwerpige rogbrood.

Bakkerslappies kan bestel word by: boerekostwist@gmail.com

Bron: Annelien Pienaar, www.annelienpienaar.co.za 2014