‘n Vraag wat baie by my Boerekos met ‘n Twist kookgroep op Facebook gevra word is: Hoe maak ek wraps, roti’s, paratha en selfs tortilla’s. Met hierdie resep en meegaande video greep glo ek sal die vrae rondom die maak van die immer gewilde wrap opgelos wees. Kom ons kyk eers dieper na wat die verskil is tussen ‘n roti en paratha.

Roti en paratha word met dieselfde resep gemaak maar die verskil kom in by die lagies wat in gerol word met die hulp van gesmelte botter of ghee (verhelderde botter). Tydens die video sal jy sien daar word verskeie opsies gegee hoe die deeg gevorm word met ‘n verskeidenheid kombuis toestelle. Vir die roti sal daar net 1 x uitgerol word en dadelik pan braai tot gaar. Vir die capathi word die deeg gerol, met botter bestryk en dan in ‘n kieel opgerol en weer plat gedruk. Hierdie deeg rus vir 10 minute en word dan finaal in ‘n sirkel gerol en dan pan gebraai.

Video van die resep: https://youtu.be/DBVapPCXqp8

Resep
280 g koekmeel (variasie kan 140 g koekmeel en 140 g bruinbrood of volkoring meel gebruik word)
200 g kookwater
2 e botter / ghee
1/2 t sout
100 g ekstra botter wat vir die smeer van die lae gebruik word en ook die braai van die deeg

Meng die koekmeel en sout saam en maak ‘n holte in die deeg. Smelt 2 e botter in die kookwater en voeg by die meel en druk met ‘n spaan aan mekaar. Knie die deeg dan per hand tot glad en bedek met ‘n vadoek en laat goed afkoel tot kamertemperatuur.

Verdeel die deeg in 8 ewe groot bolletjies en rol of druk in sirkels. Gaan soos volg te werk vir:
Roti: vorm deeg in ‘n sirkel van 3 mm dik, soos gesien op die video en rol net 1 x uit. Hou eenkant.
Chapati: vorm deeg in ‘n sirkel van 3 mm dik soos gesien op die video. Sny die deeg op een sy tot in die middel van die deeg. Smeer met gesmelte botter en rol dan op soos ‘n kieel. Druk die kieel se onderkant toe en laat  regop staan. Druk die punt van die kieel met die palm van jou hand plat. Voltooi al 8 die kieels en begin dan weer by nommer 1 uit te rol en braai soos jy rol.

Braai elke stukkie deeg vir 2 minute per kant en smeer elke kant nadat gedraai is met gesmelte botter en braai dan liggies vir 1 min per kant.

Hou die deeg in ‘n vadoek toe sodat dit sag en klam kan bly.

Hierdie gaar deeg vries baie goed.

Bron: Annelien Pienaar, www.annelienpienaar.co.za, 2020

Hoeveelheid: 8 roti’s = 4 porsies