Plaas asb hierdie resep saam in die Boksie vir ‘n Boervrou projek. So kan ons mense bemagtig om ‘n verskeidenheid items met een basiese Brood resep te maak. Verder word tegnieke aangeleer vir brood bak en ander gebak soos verduidelik in die brief aan die Boervrou.

Die Boksie vir ‘n Boervrou projek word landwyd en ook in die buiteland soos Namibië ondersteun en die vroue hande wat net gee is ongelooflik. Met die Boerekos met ʼn Twist kook groep op Facebook het ek dadelik besef met die kommentare dat daar regtig in dele van ons land groot behoefte is. Daar is selfs plase wat nie meer elektrisiteit voorsiening het. Ek is self ʼn boervrou en kan getuig van swaar kry en droogte, maar ons het dit nog nie so fel soos ander dele van SA beleef.

“Liewe Boervrou,

Hierdie resep lê my baie na aan die hart want dit versinne beeld die boer in my. Die wil om te oorleef met die minste moontlik. Brood is seker die een item in ʼn huis wat as dit swaar gaan, op elke ete tafel verskyn.

Ek het gedink as die mense nie meer elektrisiteit het, hoe word daar dan brood gebak? Hoe kan ek met alternatiewe planne vir ons boervroue dit makliker maak?

Die resep het ek so ontwikkel dat dit aan verskeie gaarmaak metodes voldoen soos: plaatkoekies, wafels, roosterkoek, potbrood, vetkoek, brood-sisters, brood rolletjies en vere beskuit.

Die brood word oornag aan gemaak en die volgende dag gebak. Hoe maklik is dit?

Mag jy, liewe Boervrou, vashou aan hierdie beeld in Psalms wat my persoonlik al deur baie gedra het: Psalm 57: 2 “…en, in die skaduwee van U vleuels sal ek skuil totdat die onheil verby gegaan het.” Hoe kosbaar is die gedagte aan ʼn gans op die werf wanneer haar kuikens uit broei? As gevaar dreig of onsekerheid heers, gaan hul vlerke oop en maak hul kuikens veilig toe in daardie sagte dons. ”

Beste wense

Annelien Pienaar (Skeerpoort, Noord-wes)

Wenk vir gis: HOu gis so koel moontlik te alle tye as dit nie gebruik word. Yskas of vrieskas verkieslik. Die gis moet lugdig gestoor word en dit kan vir baie lank so bewaar word. Hoë temperature in kaste kan die gis selle dood.

Fase 1: die aand voor die tyd
Ek verkies om Brewers yeast ipv Instant yeast te gebruik omdat die smaak van die brood net soveel beter is. Indien jy bakkersgis (grys nat koekie) wil gebruik is jy welkom (gebruik dieselfde hoeveelheid as vir Brewers yeast). Die Brouers gis is korrelrig en moet vooraf eers geaktiveer word. Wat beteken dit?

Los die gis eers in effe lou water op en voeg ‘n knippie suiker by….los vir 2 min en roer dan om op te los.

5 ml Brewers yeast (staan stil in die winkel en lees baie, baie mooi…die geel pakkie of die blou pakkie…daar staan mooi geksryf BREWERS YEAST, met sulke erdepotte. Spar, Checkers, Pnp.)

100 ml lou water
knippie suiker / heuning / molasse stroop / bruin suiker

Volgende gaan jy hierdie gismengsel laat staan totdat daar ‘n pragtige skuim vorm en amper wil oor kook. Dan begin ons met die spons gedeelte.

500 ml water
500 g koekmeel (verkieslik Eureka Mills of enige ander steengemaalde meel)

Meng die gismengsel met die res van die water en koekmeel. Laat dit oornag staan met ‘n lappie bedek…dit is wat mens ‘n spons noem.

Fase 2
Môre oggend voeg jy nog 500 g koekmeel, 1 t sout, 4 e botter by die mengsel en knie dan goed deur. Rus die deeg vir ‘n uur totdat dit mooi verdubbel het. Indien jy ‘n elektriese menger het kan jy dit stel vir Kenwood met die vraagteken haak nie vinniger as 3 en vir Kitchenaid nie vinniger as 4 en knie vir 5 minute. Haal deeg uit en laat dubbel die volume rys of Indien jy nie tyd het om die deeg dan te bak nie, kan dit net gemeng en geknie word en in ‘n geoliede houer in die yskas gestoor word totdat jy tyd kry. Vir ongeveer 3 dae kan die deeg verkoel word en druk die deeg maar net weer plat as dit by die bak wil uit klim. Onthou hoe langer die deeg in die yskas bly hoe suurder raak dit.

Fase 3
Sodra die deeg verdubbel het in volume kan jy maar die oond aan skakel teen 180C. Smeer een groot brood pan. Haal die deeg uit en moenie dit af knie nie. Haal versigtig uit en moenie meel op die oppervlakte strooi. Trek die deeg in ‘n reghoek en rol dan op soos ‘n rolkoek. Maak seker jy rol styf op. Vou die punte in en plaas met die naat na onder in die pan. Laat die deeg weer verdubbel in volume. Maak seker jy bedek die deeg met ‘n lappie terwyl dit rus. Sodra die brood gereed is om te bak, spuit die brood bo-op met water en bak dan vir 45-60 minute.

Variasies op die basiese deeg
Soet brood
In Fase 2 voeg 100 g (1/2 k) wit suiker by asook 100 ml botter en vervang die water met karringmelk. Knie die deeg goed deur en laat rys tot dubbel.

Rol die deeg uit en druk sirkels en laat die sirkels 5 min rus voordat dit gebraai word. Braai op ‘n droë pan soos vir English muffins oor matige hitte aan beidekante.

Alternatiewelik kan die deeg in mos bolletjies gevorm word en in brood pan gepak word. Bak soos vir Fase 3.

Nog ‘n opsie is om hierdie soetbrood deeg te diep vet braai soos vir vetkoek en dan in koeksister stroop te doop en met klapper te strooi. In die beslag voeg 1 t kaneel, paar knippies gemmer vir ekstra geur in die deeg.

Vetkoek
Voeg by Fase 2 nog 100 ml ekstra water by om ‘n slapper deeg te kry om hol vet koeke te bak. Anders as jy hou van ‘n vleisige vetkoek moenie die ekstra water byvoeg nie.

Hierdie deeg is ook geskik om plat gerol te word en direk op ‘n plaat gebak te word om uit te pof vir ‘n naan of selfs pizza deeg.

Suurdeeg plaatkoekies of wafels
Vir die hele resep vervang die water met melk. Voeg by fase 2 ekstra 350 ml water, 4 e witsuiker of heuning en meng die beslag met ‘n draad klitser. Smelt 250 g botter of olie en roer by. Bak lepels vol van hierdie beslag op ‘n warm gietyster plaat of in ‘n wafel pan. Jy kan ekstra water byvoeg indien die beslag vir jou te dik is.

Rooster koek
Rol die deeg uit en druk sirkels of sny in skywe. Laat 5 min rus en begin dan op ‘n oop vuur en rooster te braai tot bruin en gaan aan beidekante. Vir stok brood week die stokke vooraf in water (dowl stokkies is die veiligste) en draai stukkies deeg oor die stok. Kinders is gek oor eie stokbrood braai.

Gestoomde blikkie brood
Plaas die finale deeg in gesmeerde blikkies en kook ‘n kastrol met water. Sodra die deeg in die blikkies verdubbel het plaas die blikkies met deeg in die kastrol. Maak seker die water kom net tot by ‘n kwart van die blikkies se hoogte. Plaas foelie oor elke blikkie en bedek die kastrol met ‘n deksel. Stoom die brood oor matige hitte gaar vir ongeveer 45 minute.

Bron: Annelien Pienaar, 2019, www.annelienpienaar.co.za
Hoeveelheid: 1 groot lang brood of 2 kleiner brode.