Boompies ala die Filistyne! As ek vra watter sout groente die ouens wil eet dan is dit of Groenboontjie bredie of Boompies.  Hierdie is ook die groente van keuse vir my gesin omrede Brokkoli soveel vitamiene en minerale bevat. Daar is meer Kalsium in brokkoli as in ‘n glas volroom melk! Verder bevat brokkoli ook antioksidante wat vrye radikale soos kankervormde substanstanse teen werk. Boodskap vir ons almal…eet berge brokkoli!

In hierdie resep fokus ek op die gaarmaak metode van die groente sodoende die voedingswaarde behoue te laat bly. Jy het geen snaakse of ekstra toerusting nodig om groente op die outyds manier gaar te stoom nie. ‘n Dood gewone kolander of sif wat bo-kant kokende water hang (nie in die water) sal ook dien.

2 x Witsous Bêre mengsel p.211
500 g brokkoli in kleiner blomme gebreek
500 g blomkool in kleiner blommer gebreek
300 g wortels
1 k cheddar kaas (opsioneel)
3 e Groente Sout p. 211
½ t neutmuskaat
1 t dill tippies, gedroog (Cape Herb ‘n spice of Woolies)
Sout en peper na smaak

Voorverhit oond na 180 ℃.

Plaas net genoeg water in ‘n kastrol waarin ‘n sif of kolander gemaklik sal pas sonder dat die bodem die water raak. Maak seker daar is ‘n deksel wat ook dig oor pas. Laat die water kook en voeg dan eers die wortels by en stoom vir 5 minute. Voeg daarna die blomkool en brokkoli by en stoom na gelang van brosheid wat jy verkies.

Berei dan die witsous voor terywl die blomkool stoom. Maak die medium dikte sous aan en geur die sous met helfte van die groente sout, neutmuskaat en dill tippies…sout en peper na smaak.

Sodra die groente gereed is, plaas in oondvaste bak en giet die witsous oor. Sprinkel cheddar kaas oor en bak vir 10 minute tot gesmelt of bedien die gereg dadelik indien kaas nie gebruik word.

Bron: Annelien Pienaar, 2018
Hoeveelheid: 4-6 porsies