Hierdie resep is die Veeldoelige Witbrood resep uit my kookboek Boerekos met ‘n Twist. Hierdie resep het nie minder nie as 5 variasies van Toebroodjie brood, Vetkoek, Soetbrood met karamel, Pizza basis en nog vele meer…maar vir my het die Stromboli wat ek gedoen het die kersie op die koek geneem. My Filistyne reken dit is “Pizza Pie” so lekker is dit. Jy kan enige pizza vulsel wat jy normaal weg sou gebruik, in die vulsel sit. Onthou om altyd met Mozzarella af te rond.
1 kg (7 k) koekmeel
500 g (2 k) lou water (24 ℃)
190 g (¾ k) lou melk (24 ℃)
45 mℓ (3 e) botter, kamertemperatuur
30 mℓ (2 e) heuning
10 g kitsgis
50 mℓ (3 ½ e) water (om gis om te los)
10 mℓ (2 t) sout
Meng die meel, water en melk saam totdat die mengsel egalig vertoon en geen droë meel sigbaar is. Hierdie deeg gaan nie geknie word soos in die ou dae nie. Die deeg gaan rus vir 3 ure sonder gis sodat die gluten raamwerk vanself gevorm word.
Na drie ure sprinkel gis oor 50 mℓ water en roer om goed op te los. Voeg die botter, heuning, giswater en sout by die deeg. Druk met jou vingers van bo af gate in die deeg sodat die vloestof kan ingaan. Begin dan deur die deeg soos ’n horlosie te sien en begin by twaalfuur oor te vou na ses uur en weer van drie uur oor na nege uur en hou so aan totdat jy weer by 12 uur uitkom. Dit is belangrik om die deeg te vou en nie te knie. Laat die deeg weer rus vir 15 minute en vou weer een rondte. Herhaal 2 keer. Laat dan die deeg rus in ’n goed geoliede bak en bedek, sodat dit kan verdubbel in volume. Hierna sal die deeg sy sag wees en gereed wees vir die resep wat jy wil maak.
Sprinkel oppervlakte rojaal met mengesel (1:1) koekmeel en mielieblom (maizena/cornstarch). Verdeel deeg in twee. Rol een helfte uit tot ongeveel 3 mm duk uit in langwerpige vorm. Pak vulsels van keuse op die deeg. Daar moet altyd Mozzarella in die rol wees.
Onthou om twee vingers reg rondom die deeg oop te hou en nie met bestanddele te bedek nie. Sodra jy tevrede is met die rol se vulsel rol vou soos volg. Vou die kort kant se oop randte oor. Begin vanaf die langkant van die deeg oor te rol soos ‘n rolkoek tot by die ander ent. Tel versigtig op en plaas in gesmeerde bakplaat. Voltooi die ander rol. Maak dan skuins snitte met ‘n baie skerp mes of lemmetjie.
Smeer elke rol mildelik met olyfolie. Bak die rol vir 45 minute by 180 C. Sodra die Stromboli uit die oond kom, smeer weer met olyfolie en sprinkel met vars of droë kruie van keuse. Origanum en basilie kruid is heerlik.
Bedien effens lou met souse van jou keuse. My familie gunsteling is Ouma Hantie se Knoffelroom sousie in my kookboek Boerekos met ‘n Twist.
Bron: Annelien Pienaar, Oujaar 2017!
Hoeveelheid: 2 strombolis en voed 8 persone
Goeie naand
Ek het nou so 2 dae terug jou facebookblad ontdek. Kani glo ek hoor nou eers van jou boek nie.
Ek is mal oor bak veral brode. Ek wil net hoor al die resepte op jou blad? Is dit in jou boek? Waar kan ek jou boek koop?
Hallo Koos, dankie dat jy so heerlik saam met ons kuier op die blad. Groot asb lees gerus die About van my groep sodat jy die bronne waaruit ek werk maksimaal kan benut. Nee, die boek is ‘n entiteit op sy eie en onderhewig aan die publikasie wet. Human en Rousseau/Media 24 publiseer die boek. Hy is tans in AFrikaans in sy 4de druk en Engels is ook nou uit. My werk word alles met ‘n les by elke resep toe gerus om jou tyd in die kombuis te geniet. Daarom die blad om jou as leser te help as jy sou sukkel met my werke. Ek gee ook klas as ‘n Voedsel WEtenskaplike in die fyner kunsies van “Fermented foods” soos Suurdeeg, Kaasmaak en vele meer onderwerpe. So, ek kan jou vir baie lank lekker leer en ook gesond leef. Swerf rond op die webtuiste en loer wat ek alles bied. Onder die klasse sal jy sien het ek ook begin met virtuele video aanlyn klasse in die gemak van jou kombuis en jy kan oor en oor na die video’s kyk om die fynere puntjies mooi onder die knie te kry. Hoop ek antwoord volledig. Maar asb lees my About op die Boerekos met’n Twist kookgroep sodoende te sien waar ek oral skryf, praat, TV ens. Groete Annelien Pienaar