Paella: Tradisionele Spaanse weergawe

Hierdie tradisionele paella word gemaak met Arborio-rys wat stadig gaar prut in geurige hoenderaftreksel, witwyn, saffraan, gerookte Spaanse paprika en vars groente. Sappige hoender, mossels, garnale en calamari voltooi die gereg, terwyl vars pietersielie en suurlemoen die geure perfek afrond. Die resep kan ook maklik in 'n Wonderbag voltooi word om elektrisiteit te bespaar sonder om geur of tekstuur in te boet.

Prep Tyd - 20 mins

Kook / Bak Tyd - 45 mins

Totale Tyd - 65 mins

Moeite - Maklik

Bergingopsie: Yskas stoor

Oondtemperatuur: n.v.t.

Porsies - genoeg vir 4-6 persone portions

Wenke / Tips

Annelien se Wenke

  • Saffraan is die hart van 'n egte paella. Dit gee nie net die kenmerkende goue kleur nie, maar ook die unieke geur waarvoor hierdie Spaanse gereg wêreldbekend is. Indien dit nie beskikbaar is nie, kan borrie kleur gee, maar die geur sal anders wees.
  • Gebruik 'n goeie kwaliteit olyfolie en neem jou tyd om die uie, soetrissie en knoffel stadig gaar te maak. Hierdie eenvoudige basis bou die diep geur waarop die hele gereg rus.
  • Arborio-rys werk uitstekend omdat dit die geurige aftreksel goed absorbeer en 'n romerige tekstuur ontwikkel terwyl die korrels steeds hul vorm behou. Tradisioneel word Spaanse kortkorrelrys, soos Bomba-rys, gebruik indien dit beskikbaar is.
  • Nadat die aftreksel bygevoeg is, moenie weer die rys roer nie. Deur die pan ongemoeid te laat, vorm die kenmerkende goudbruin korsie (socarrat) onder in die pan—'n ware teken van 'n goed bereide paella. Die kors moet bros wees, nooit gebrand nie.
  • Voeg die seekos eers aan die einde van die kookproses by. Garnale, mossels en calamari gaar baie vinnig en bly sag wanneer hulle net die laaste paar minute prut.
  • Gebruik altyd warm aftreksel indien ekstra vloeistof nodig is. Koue vloeistof onderbreek die kookproses en beïnvloed die gaarword van die rys.
  • Laat die paella vyf minute rus nadat dit van die hitte afgehaal is. Hierdie rusperiode laat die rys die laaste bietjie vog absorbeer en bring al die geure mooi bymekaar.
  • Die Afrikaanse Twist van 'n skeut room is heeltemal opsioneel. Dit gee 'n ryker sous, maar vir 'n tradisionele Spaanse paella word geen room gebruik nie.
  • Die Wonderbag-metode is 'n uitstekende manier om elektrisiteit te bespaar. Solank die gereg eers behoorlik gekook het voordat dit in die Wonderbag geplaas word, sal die oorblywende hitte die rys stadig voltooi sonder om die tekstuur te benadeel.
  • Annelien se kombuisgeheim: Bedien die paella direk uit die pan met vars suurlemoenwiggies, ekstra pietersielie en 'n stuk warm, bros brood om die laaste geurige sous op te vee. En wanneer almal begin baklei oor die bros rys onder in die pan, weet jy jou paella was 'n sukses!

Bestanddele / Ingredients

¼ k (125 ml) extra virgin olyf olie
1 groot ui, fyn gekap
1 soet rissie, fyn gekap (gebruik rooi en groen vir mooi kleure)
2 e knoffel fyn gedruk
3 roma tamaties baie fyn gekap
1 loerier blaar
5 ml (1 t) gerookte Spaanse paprika
5 saffraan draadjies (indien jy nie het kan jy maar paar knippies borrie gebruik) maar dit is die maak of breek vir my van ‘n paella met die saffraan.
Sout en pepper
¼ k goeie kwaliteit witwyn, ek hou van ‘n Chardonnay met sy ligte vrugtige geure
4 hoender filette, in blokkies gesny
¼ k fyn gekapte pietersielie
2 k arborio rys
5 k hoender aftresel
½ k gevriesde ertjies
500 g prawns of shrimps (skoon gemaak)
500 g mossels, skoon gemaak
200 g calamari ringe
Suurlemoen wiggies as garnering
Room indien jy verkies (nie eg Spaans, maar Afrikaanse Twist!)

Instruksies / Instructions

In ‘n groot oop pan wat al die bestanddele kan hou, giet die olyf olie en braai die uie, soetrissie, knoffel tot sag en deursigtig oor matige hitte met ‘n knippie sout om die egte soetheid te onttrek uit die uie.

Voeg dan die tamatie, loerier blaar, paprika, saffraan by. Meng goed deur en kook vir 5 minute. Voeg dan die wyn by en kook vir 10 minute sonder deksel. Proe of sout nodig is en pas die smaak aan.

Voeg die hoender, 2 e van die gekapte pietersielie by en rys by. Meng goed deur en kook vir ‘n minuut. Giet dan die aftresel by en roer net een maal en draai die hitte af na baie stadige prut…jy mag nie weer aan die pan roer nie! Soos in glad nie. Paella het altyd ‘n bros rys lagie aan die onderkant maar dit mag nie gebrand wees. So stadige matige hitte asb.

Skud die pan vir so 2 keer in die 20 minute wat dit kook. Dan voeg die res van die bestanddele by behalwe die room en suurlemoen wiggies. Kook sonder deksel. Die rys behoort meeste van die vog te absorbeer. Sou die rys nie gaar wees voeg nog so 1 k aftresel (dit moet kokend warm wees nie koud) by en laat vining deur kook. Kook dan vir nog 5 minute.

Verwyder van hitte. Maak die pan met foelie styf toe en rus dan so vir 5 minute en bedien dadelik.

Hoe om in ‘n Wonderbag te kook

Die wonderbag is ‘n wonderlike konsep om bietjie krag te bespaar en kan vir soveel goed aangewend word, selfs koue voete in die winter…haha.

Vir hierdie resep begin direk in ‘n kastrol werk wat in die Wonderbak sal pas te kook. Dan by die tweede laaste stap wanneer die pan vir die tweede maal in 20 min geskud word, voeg die res van die bestanddele by. Kook vir nog 5 minute, skud die pot en plaas op ‘n kantoen afdroog vadoek binne in die Wonderbag. Los dan vir 30 minute en toets vir gaarheid. So spaar jy baie krag en wel, die kos bly warm vir baie lank.