Mebos

Hierdie tradisionele mebos word gemaak van sagte gedroogde appelkose wat geweek, fyngemaal en met suiker en 'n knippie sout gemeng word voordat dit in balletjies, stafies of blokkies gevorm word. Ná 'n kort droogproses word dit in suiker gerol vir ekstra geur en raklewe. Mebos is nie net 'n heerlike peuselhappie nie, maar ook 'n veelsydige bestanddeel vir bak, marinades, souse, nageregte en ontbytgeregte.

Prep Tyd - 20 mins

Kook / Bak Tyd - 45 mins

Totale Tyd - 65 mins

Moeite - Maklik

Bergingopsie: Rakstoor

Oondtemperatuur: n.v.t.

Porsies - 50 - 100 stukke afhangende van groottes. portions

Wenke / Tips

Annelien se Wenke

  • Gebruik goeie gehalte, sagte gedroogde appelkose. Hoe beter die vrugte, hoe voller en ryker sal die eindgeur wees.
  • Moenie die appelkose te lank week nie. Tien minute in kookwater is voldoende om hulle sag te maak sonder dat hulle pap word.
  • Droog die appelkose goed af voordat dit gemaal word. Te veel vog kan die mebos te sag maak en die raklewe verkort.
  • Maal die appelkose so fyn moontlik vir 'n gladde, egalige tekstuur. 'n Vleismeule gee 'n besonder mooi tradisionele resultaat.
  • Moenie die suiker verminder nie. Buiten die soet smaak dien suiker as 'n belangrike preserveermiddel wat help om bakterieë en skimmelgroei te beperk.
  • Laat die mengsel 'n uur of twee rus voordat dit gevorm word. Gedurende hierdie tyd los die suiker verder op en word die mengsel makliker hanteer.
  • Rol die mebos in strooisuiker eerder as gewone kristalsuiker. Die fyner suiker kleef mooier aan die oppervlak en gee 'n egaliger afwerking.
  • Bêre die mebos lugdig tussen lae waspapier op 'n koel, droë plek om te voorkom dat die stukkies aan mekaar vaskleef.
  • Hierdie resep is ongelooflik veelsydig. Gebruik mebos in muffins, koekbeslag, botterroomversiersels, mousse, jogurt, ontbytgraan, potjiekos, hoendergeregte, marinades of selfs as 'n natuurlike geurmiddel in souse.
  • Vir 'n moderne variasie kan jy die mebos in geroosterde klapper, fyngemaalde pekanneute, amandels of pistache rol. Voeg neute of klapper versigtig by die mengsel, aangesien te veel die mebos droog kan maak.
  • Annelien se kombuisgeheim: Mebos word eintlik nóg lekkerder namate dit 'n week of twee rus. Die geure ontwikkel verder, die tekstuur word stewiger en die appelkoos kry daardie kenmerkende diep, soetsuur smaak waarvoor ons almal lief is. Ek maak daarom altyd 'n groot hoeveelheid wanneer appelkose volop is—want daar is min dinge wat so lekker saam met 'n koppie koffie of in 'n kosblik werk soos 'n stukkie egte, tuisgemaakte mebos.

Bestanddele / Ingredients

1.5 kg Appelkoos helftes – gedroog
Kookwater
15 ml Sout
1.5 kg Wit suiker
Ekstra suiker vir oorsprinkel vir die wegpak slag (ek verkies strooisuiker dit klou beter en bedek die oppervlakte mooi, en natuurlik is my soettand dan ook bietjie bevredig!)

Instruksies / Instructions

Plaas die appelkoos helftes in ‘n groot pot en bedek met kokende water.
Laat die appelkose in die water uitswel vir niks meer as 10 minute nie.
Die idee is om die appelkose effens te laat uitswel om die maal proses makliker te maak ander word dit te pap.

Spoel nou die appelkose af in koue lopende water en dreineer soveel as vog moontlik.
Druk dan droog met lappe sodat die meeste vog af is en die appelkose droog voorkom.
Ek laat die appelkose vir so 10 minute op ‘n lap lê nadat dit droog gedruk is om net effens wind droog te word.

Plaas bietjie vir bietjie van die appelkose in ‘n voedsel verwerker en kap so fyn as moontlik.
Indien jy nog ‘n vleis meuletjie het of ‘n elektriese een op jou menger, sal dit ook perfek werk.

Voeg nou die sout en suiker by die mengsel en meng baie goed deur sodat die suiker kan oplos asook die sout eweredig kan versprei.
Laat die mengsel vir 1 – 2 ure met ‘n net bedek staan voordat jy begin vorms maak.

Jy het ‘n hele paar opsies om die vorms te maak.
Tradisioneel rol jy balletjies van ongeveer 15 – 20g en druk dit met die palm van jou hand plat soos ‘n pattie, of jy kan dit in ‘n pan druk en dan vormpies druk, of rol stafies of sny in vierkante.
Jou keuse.

Laat die lekkers weer droog vir 1 – 2 ure en draai dit halfpad om sodat die ander kant ook kan droog voordat jy dit in die ekstra suiker rol.
As jy ‘n sif het werk dit ook wonderlik.
Pak dan die mebos in lugdigte houers met lagies waspapier om vas kleef te voorkom.

WAARVOOR WORD DIT GEBRUIK?
Ek gebruik dit in my koeke wat ek bak, muffins, mousse, versiersels of vir my kinders se skool kosblikke vir ‘n energie happie. Vir vleis geregte soos potjies, hoender disse, selfs in my yoghurt. Maak dit deel van jou marinade en dit transformeer enige taai stuk vleis. Appelkoos is baas!

Twist: rol in klapper en strooisuiker of kap bietjie neute fyn en werk dit in die mengsel in. Die opsies is legio. Hoeveel om mee te twist? Per aanmaak so 200- 500g neute en klapper wees maar versigtig dit kan ‘n baie droë tekstuur tot gevolg hê, hou by so 1 k binne in die mengsel.