Botterversiesel: hitte stabiel en eiervry

Eierlose gestabiliseerde Botter versiersel was die groot versoek in hierdie resep gewees. Ek dink almal van ons kan getuig van NAGMERRIES in die kombuis as dit kom by versiersel wat warm word en dan sover as wat mens met ‘n versier sak werk, begin die tranedal van goed wat vorm verloor. Is jy reg om meer te leer oor Botter versiel: Hitte stabiel en Eiervry?

Prep Tyd - 20 mins

Kook / Bak Tyd - 45 mins

Totale Tyd - 65 mins

Moeite - Maklik

Bergingopsie: Vrieskas vriendelik

Oondtemperatuur: n.v.t.

Porsies - Ongeveer 500g portions

Wenke / Tips

Wenk: Lees die volledige resep vir beste resultate.

Bestanddele / Ingredients

Benodig

  • 250 g botter of 80% bakkers margarien
  • 150 g tot 200g versiersuiker, gesif. Jy kan soetheid bepaal
  • 20 g melk
  • 40 g room
  • 70 g wit sjokolade

Instruksies / Instructions

7 Goue Wenke vir suksesvolle Die Perfekte Botter versiersel: Hitte stabiel en Eiervry

1. Botter of Margarien?

  • Verskillende handelsmerke het ook ‘n groot invloed t.o.v. die uitkoms van die stabiliteit van die Botter versiersiersel wat hitte bestand en Eiervry is, oor die algemeen. Vir die doel van my toetse het ek eksklusief met Stork bake 80% vetinhoud gewerk en ook Wit Woodenspoon 80% vet inhoud.
  • My gevolgtrekking met verskillende margarien is dat bv. Clover ‘n meer loperige en onstabiele eindproduk gee. Dit beteken nie dat dit nie geskik is vir gebak maar dat vir hierdie resep dit nie die doelwit bereik om 3 D stabiele spuit werk te kan doen en ook om koeke mee te smeer en netjies te trek. Hierdie tipe margarien al dui dit aan 80% vet inhoud maak baie meer waterdamp as ander margarien.
  • Die temperatuur van die botter is belangrik, dit mag nie gesmelt wees nie, dit mag nie te koud wees nie, dit moet buigsaam wees en by kamertemperatuur wees, basies soos prestik of klei buigbaar. Deur die botter in ewe groot blokkies te sny, help dit om dit eweredig te verhit, en dit sal nie smelt nie.
  • Wanneer jy die botter verroom, maak seker jy klop dit op die laagste spoed op ‘n hand- of staanmengers. Klop die versiersel vir die nodige tyd soos in die resep aangedui, om die regte tekstuur te kry.

2. Versiersuiker

  • Ek vind Hueletts vir al my gebak gee beter resultate want dit bevat minder vullers en middels teen klonte.
  • Sif die versiersuiker twee keer voordat jy dit in die resep gebruik.

3. Melk

  • Verkieslik volroom want koek is elke geval nie gesond…so wat help lae vet mens? LOL
  • Kamertemperatuur

4. Room

  • Vars verkieslik enige handelsmerk
  • Kamer temperatuur

5. Sjokolade

  • Jy kan NET die bakkers tipe (Bakels) of couverture gebruik, NIE die eet sjokolade afdeling se Milky bar nie. Dit sal nie die set aanhelp.
  • Wit sjokolade brand baie vinnig, so smelt dit op ‘n baie lae temperatuur. As jy ‘n mikrogolf gebruik, smelt dit in 10-sekonde intervalle en roer tussen elke verhitting. As jy ‘n dubbel koker gebruik, maak seker dat die vlam op die stoof op die laagste is, maak seker dat geen water in kontak met die sjokolade kom nie en hou aan roer.
  • Wanneer jy die ganache by die botter voeg, maak seker dit is nie te warm nie, maar dat beide min of meer dieselfde temperatuur is. Dit moet effens warm wees soos liggaamstemperatuur. Moenie die ganache te ver vooruit maak en dit buite laat staan nie, anders kan die suiker kristalliseer en klonterig raak.

6. Vermeerdering van die resep

  • Ja jy gaan in situasies kom waar die resep vermeerder moet word en hierdie resep werk baie goed tot op x4. Vandaar gaan jy die melk eers uitlos, en dan met x5 tot 10 vog aanpas totdat die versiersel se dikte soos die enkel aanmaak vertoon.

7. Stoor van versiersel

  • Druk altyd die lug uit die sakkie waarin jy die versiersel stoor, ek verkies ziplock en vries of verkoel dan plat gevryf op ‘n bakplaat. Die ontdooi neem minute.

Bestanddele vir Die Perfekte Botterversiersel: Hitte stabiel en Eiervry

  • 250 g botter of 80% bakkers margarien
  • 150 g tot 200g versiersuiker, gesif. Jy kan soetheid bepaal
  • 20 g melk
  • 40 g room
  • 70 g wit sjokolade

Metode vir Die Perfekte Botterversiersel: Hitte stabiel en Eiervry

  • Plaas ‘n glas mengbak in die VRIESKAS! Dit sal ook help om die versiersel as dit dalk pap mag vertoon, weer ferm te maak.
  • Klop die botter op die laagste snelheid vir 8-15 minute. Ambient temperatuur bepaal hoe vinnig die margarien van geel na wit gaan. Ons moet stadig klits want jy wil nie lug borrels in kry.
  • Meng die melk en room in ‘n bak, verhit dit tot dit begin kook (nie heeltemal kook nie).
  • Meng die melk-room mengsel met die twee keer gesifte versiersuiker, ‘n bietjie op ‘n slag, om klonte te voorkom.
  • Voeg die gesmelte wit sjokolade by en roer om ganache te vorm.
  • Kontroleer die temperatuur van die ganache, dit moet nie te warm wees nie. Giet dit in die geklopte botter terwyl jy dit op lae snelheid vir nog 5 minute klop.
  • Voeg die versiersel in die koue mengbak en roer totdat die mengsel begin set.

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 2024
Hoeveelheid: Ongeveer 500g