Liewe Twister,

Die 2019 kalender jaar was ʼn besige jaar gewees vir my tov groei in soveel areas van my lewe. Ek het soveel nuwe goed geleer wat ek op my ouderdom gedink het nooit moontlik was. Ek het soveel geleer uit die reis en “ek kan nie” is soos ʼn vloek woord in my ore. Die Here het ons soveel gegee om voor dankbaar te wees. Sommige het geliefdes gegroet…sommiges het geliefdes ryker geword…die punt is. Of jy nou een of baie om die tafel gaan wees oor die Feestyd. Die wonder van alles is, God is met ons. Om ʼn maal om die tafel te geniet en ʼn hoof te buig in dankbaarheid vir die gawe wat ons gaan geniet…is soveel meer mooi om te geniet.

Vir my is ʼn tafel die hart van my huis. Oral op die werf sal julle tafels sien. Ek hou van ʼn tafel want dit bind ons saam. Of die tafel lang, kort, rond of vierkantig is. Dit voltooi ʼn sirkel en dit is volmaak.

Mag die sirkel van God se liefde in julle harte ʼn warm kol raak. Mag die liefde ook ʼn kol van dankbaarheid by ons wakker maak en die mooi van ons kinderjare op roep van sorgelose vreugde.

My wense aan ieder en elk en so ook spesiaal aan Sandra Saayman. Mag julle tot julle ore toe geseën wees en net die mooi wat ons Skepper kan gee oor julle laat reën.

Voorgereg

Salm / Tuna patee
150 g roomkaas
¼ t neut muskaat (nutmeg)
30 ml gelatien poeier of 6 gelatien velle (SA standaard gelatien)
125 ml koue water
2.5 ml sout
200 g gouda fyn gerasper
30 ml suurlemoensap
200 g geblikte salm of tuna
5 ml dill gedroog of tiemie
1 groot aghurkie fyn gekap
150 ml room, styf geklits
6 silikoon vormpies wat ongeveer ‘n 125 ml neem
Bakplaat waarop die vormpies pas

Sprinkel die gelatien oor die koue water en laat eenkant om te hidreer vir 10 minute.

Meng solank al die bestanddele saam tot ‘n gladde mengsel.

Plaas die gelatien bakkie in kook water en roer totdat die mengsel egalig gesmelt het en soos stroop lyk. Meng by die roomkaas mengsel in asook die room wat ingevou word. Skep in silikoon pannetjies (nie nodig vir voorbereiding met kleef werende middels). Plaas die silikoon mat op ‘n bakplaat en kap se twee maal op die oppervlakte om mooi egalig te kry. Vries vir 2 ure bedek met kleef plastiek of langer tot benodig.

Ontvorm die gevriesde vormpies en berei die bordjies voor met garnering. Dit neem 30 minute vir hierdie klein vormpies om tot by kamertemperatuur te kom.

Bloukaas en spriet ui patee koekies
225 g blou kaas
115 g botter of bakkersmargarien 80% vet inhoud
1 groot eier
1 groot eiergeel
4 e spriet uie, vars, fyn gesnipper
2 e sesam saad
¼ t neutmuskaat (nutmeg)
1 knoffel toontjie, fyn gedruk
250 g koekmeel
1 e melk of meer (indien die mengsel dalk te styf is weens kaas kwaliteit)

Voorverhit oond na 190 C. Berei bakplaat met Pan smeer uit die Boerekos met ʼn Twist kookboek of ʼn silikoonvel. Die resep lewer 40 koekies.

Klop die kaas en botter saam tot romerig en lig vir 5 minute. Voeg die eiers een vir een by en klits tot romerig na elke byvoeging. Voeg die spriet uie, peper na smaak, sesam saad en neutmuskaat by en klits goed deur.

Sif die meel by die mengsel en meng goed saam om een massa te vorm. Verdeel die deeg in drie dele en plaas in kleef plastiek en rol baie styf op om ʼn rol te maak. Verkoel oornag. Sny dan met n gladde lem mes in 3mm skyfies en bak dadelik vir 8 tot 10 minute. Hou dop dat die kante nie te bruin raak.

Bedien met die Salm patee op ʼn bed van soetrissie sous en groenigheid.

Hoof gereg
Biltong fillet
Pekeling van vleis is ‘n oer oue tradisie en geen nuutjie vir ons Suid-Afrikaners. Ons is die land van melk en heuning met vleis in oorvloed van welke dierlike bron. Biltong natuurlik ons trots en iets wat onlosmaaklik deel van ons kultuur geword het. Jare gelede het ek by die Vleisraad my opleiding as jong finale jaar student gehad in blokman werk en ook inspeksies van karkasse. Dit was ʼn belewenis om snitte te leer ken en ook besef elke stukkie vleis moet na die beste van mens se vermoë berei word. My passie as jong student het ʼn diep gewortelde plaaskind gehad wat deur tuis slag prosesse gegaan het en so ook waardering gekry vir die kennis wat ek reeds al op gedoen het saam met my ouers. Dus, vleis sal ek eet tot die dag van my dood…

2 kg sirloin heel stuk of fillet/ rump / silverside
150 ml woestersous
50 ml balsamiese asyn
50 ml olyfolie
60 ml geroosterde koljander saad
60 ml sumac (Woolworths hou aan) heerlike suurlemoen smaak
100 g treacle suiker
50 g medium growwe sout
30 ml gerookte paprika
15 ml koeksoda
10 ml knoffel poeier
30 ml grof gemaalde swart peper

Meng al die droe bestanddele saam. Meng al die nat bestanddele saam.

Dag 1: 12 ure manireer tyd: In ʼn erde bak of glas bak (geen metaal) giet die nat bestanddele mengsel daarin. Plaas die vleis in hierdie mengsel en laat vir 6 ure rus. Draai die vleis en rus weer 6 ure. Hou bedek in die yskas.

Dag 2 en 3: Na 12 ure rol die vleis in die droe bestanddele en seel dan die vleis per vakuum of draai net dig toe met kleef plastiek. Laat vir 48 uur pekel in die yskas.

Dag 4: Haal vleis daarna uit die verpakking en laat dan vir nog 12 ure in die yskas onbedek droog raak. Draai elke 6 ure die vleis. Indien jy ʼn koel kamer het sal dit perfek werk om die vleis te hang. Ek het wildsvleis ook al op hierdie manier verwerk en Gemsbok, Koedoe, Eland werk heerlik. Hierna kan die vleis bevries word of dadelik gebruik word.

Gaarmaak van vleis

Vryf die vleis in met goeie kwaliteit olyf olie en rooster oor die kole na gelang van gaarheid verkies. Of braai oor die kole aan beidekante vir 5 min elk. Plaas dan in voor verhitte oond van 180C vir 15 minute om ʼn medium-rare gaarheid te bereik. Indien gaarder verkies, bak langer in die oond.

Bykosse
Baba spinasie slaai
500 g baba spinasie blare
1 rooi ui, fyn gekap
1 k wit kool, fyn gekap
3 groot wortels, fyn gerasper
¼ k sesam saad
¼ k pecans fyn gekap
¼ k rosyne of dadels (gekap)
1 k granaat pitte of selfs sitrus wiggies, gebruik vrugte in seisoen

Slaaisous
1 k dubbel dik Griekse yoghurt
1 k appelkoos of perske gegeurde yoghurt
½ k klapperroom
¼ suurlemoensap, vars gedruk
½ k mayonnaise
Knippie sout
Vars gemaalde swart peper

Meng al die bestanddele saam. Gebruik soos nodig en in hoeveelheid van jou keuse oor die slaai.

Geroosterde Botterskorsie en Quinoa slaai
Quinoa kan met cous-cous of perelgort vervang word.

12 gedroogde geelperske halwes, gesnipper
250 ml kookwater
250 ml (1 k) Quinoa
500 ml (2 k) water
½ groente aftreksel blokkie
125 g sampioene
5 ml fyn knoffel
100 ml olyfolie
1 lang seldery stingel, fyn gesny
3 stingels sprietuie
2 paprika vruggies in ringe gesny of vervang met 1 groot soetrissie
125 ml (½ k) ertjies

500g botterskorsie in 2cm blokkies, oond geroister by 180C 30min met olyfolie oor gesprinkel.

Plaas die perskes in die kookwater en bedek, laat afkoel. Plaas die Quinoa in kastrol en voeg 500ml water daarby asook die aftreksel blokkie. Kook vir 15 minute totdat die water alles geabsorbeer is.

Terwyl die quinoa kook braai die sampioene in olyfolie tot vog uit is vir 5 minute en voeg dan die knoffel by en roer braai vir 1 minuut. Skep die gedreineerde perskes by die sampioene en roerbraai nog ‘’n minuut en laat eenkant afkoel.

Sodra die quinoa gaar is roer by die sampioene mengsel en roer goed deur om al die pan souse op te neem. Voeg

Meng dan al die ander bestanddele by asook die slaaisous. Roer goed deur en laat oornag marineer.

Slaaisous
250 ml karringmelk
125 ml (½ k) mayonnaise
3 e sagte bruinsuiker of molasse stroop
40 g bloukaas gekrummel (opsioneel)
3 e fyn grondbone botter
3 e vars tiemie of 1 e gedroog
Sout en peper na smaak

Meng alles saam en laat eenkant.

Wenk: Indien jy nie Quinoa het maak cous-cous: gebruik gelyke dele cous-cous tot water. Verhit eers die water met 2e olyfolie en ¼ blokkie aftreksel. Sodra water kook voeg die cous-cous by en roer deur. Haal kastrol van plaat en staan vir 10 minute om uit te sit. Gebruik dan netso in resep.

Knoffelbrood
Om tyd te spaar koop ek baguettes en vul met die volgende vulsels:

1 x baguette
2 k cheddar
½ k knoffel botter kamertemperatuur
1 e suurlemoensap
1 t tiemie
1 t gerookte paprika
1 medium ui grof gekap
250 g spek uit gebraai en op gekap

Plaas die kaas, botter, suurlemoensap, tiemie, paprika en ui in ‘n mengbak en meng tot baie glad. Sny die baguette soos verkies in wiggies vir skywe of net in die helfte. Smeer in dik laag oor baguette en sprinkel die spek oor.

Draai goed toe in foelie en bak by 180 C vir 20 minute, maak oop en rooster 5 per kant oor die kole.

Nagereg
Kersie nougat Pavlova koek
Hierdie koek se vrug van keuse kan enige bessie soort wees. Tans kon ek my hande op ‘n mooi houertjie kersies slaan en mooi towerkunsies uit voer.

Koek basis
3 eiers
150 g witsuiker
140 g koekmeel
10 ml bakpoeier
Knippie sout
250 ml volroom melk
50 g botter of bakkersmargarien of sonneblom olie

Voorverhit oond na 180 C. Smeer een koekpan van 20 cm deurnit (rond of vierkantig).

Klits eiers en suiker tot lig en romerig vir 5 minute. Kook solank die melk met die botter in mikrogolf oond.

Sif die droe bestaanddele saam en vou liggies met ‘n draadklitser by die eiermengsel in met die warm melk om die beurt.

Skep in gesmeerde pan en bak vir 25 minute tot gaar.

Laat koek goed afkoel. Ontvorm en plaas in yskas tot later benodig.

Sny dan nadat verkoel in die helfte.

Nougat vulsel
115 g (1 k) botter of bakkersmargarien van 80% vet inhoud
115 g roomkaas
50 g strooisuiker
15 ml gelatien poeier
100 ml koue water
15 ml vanielje geursel of karamel geursel (rooswater ook ‘n lekker opsie)
10 ml vars suurlemoensap
5 ml vars suurlemoen skil (zest)
1 blikkie kondensmelk
1 k vars bessies of glans kersies
½ k pekans of neute van keuse

Hidreer die gelatien deur dit oor die water te sprinkel en vir 10 minute te laat. Daarna smelt die gelatien deur die houer in warm kookwater te plaas. Roer totdat die mengsel glad is soos stroop.

Klits die botter en strooisuiker tot romering. Voeg die gesmelte gelatien in ‘n baie dun straaltjie by die klitsende mengsel en dan die roomkaas. Aan die einde skraap die bakkie uit en skraap ook die kante van die mengbak af. Klits tot donsig en lig. Voeg ‘n knippie sout, geursel en kleursel (indien verkies) by en hou aan met klits.

Dit is belangrik om die hele tyd te klits sodat die mengsel nie stol. Voeg nou laaste die kondensmelk by en klits dan deeglik.

Vou dan die vrugte en neute by en haal die gesnyde koek uit die yskas.

Gebruik dieselfde pan waarin die koek gebak is om die koek in te vorm. Voer die pan met bakpapier uit en spuit met kleefwerende kos sproei of alternatiewelik, kleefplastiek werk net so goed. Dit sal jou help om die koek baie maklik uit die pan te haal as die mengsel gestol het.

Skep die helte van die nougat vulsel op die bodem van die pan (hierdie gaan die bokant van die koek wees as dit ontvorm word. Maag gelyk met die agterkant van ‘n lepel. Sit n laag koek op en skep die laaste van die vulsel op. Maak gelyk en druk die ander helfte van die koek op. Vou mooi toe en vries die koek of verkoel oornag. Ontvorm die koek en rond af met versierings van keuse.

Ek gaan die Pekan droompies in die Boerekos met ‘n Twist kookboek maak en dan stukkies fudge in vou in die plek van pekans en so droog. Dit gaan op gebreek word om as versiering saam met vars kersies te dien.

Hierdie koek sal op ou Kersaand onthul word!

Beste wens en dankie vir alles deur die afgelope jare liewe Twister. Jou teenwoordigheid hier op die Boerekos met ‘n Twist groep op Faceboek word raak gesien, en maak dit vir my as skrywer maklik om julle te bedien in die BkT huis.

Liefde

Annelien