Hoender Eenskottel gereg met Groente koekies en Soppoeier Bêremengsel

Hoender Eenskottel gereg met Groente koekies en Soppoeier Bêremengsel

Episode 6 van Boerekos met ‘n Twist op VIA TV kanaal 147 het weer heerlike kos op die tafel van Suid-Afrikaners gesit met idees en tegnieke om gesonder te leef en gaarmaak metodes ondersoek. In ‘n samelewing wat so vinnig verander t.o.v. verwerkte produkte gepak met preserveermiddels en wie weet wat nog wat kanker veroorsaak en nie eens te praat van die hartvatsiektes wat dit teweegbring…sien ek dit in ’n ernstige lig en leef dus gesond. Ek maak my eie soppoeiers en souse om geregte mee te verdik of om netso as sop te gebruik. Hier gee ek vir julle ‘n soppoeier basis en dan verder paar variasies om gegeurde soppe te maak. Steengemaalde meel is altyd my eerste keuse as ek my souse maak, jy kan egter met gewone koekmeel vervang as jy nie byderhand het dadelik. Onthou, steengemaalde meel is gesonder en meer voedsaam. Ek pak gereeld hierdie poeier in as die kinders sport het en gee hulle dan so op ’n gesonde manier kos. Ek pak in elke kosblik ’n sakkie met die poeier, dan is daar bestanddele soos ham of spek reeds gebraai, of fyn biltong om by te meng vir die ekstra proteïene. Kom ons begin.

Basis
500 g volroom melkpoeier
300 g koekmeel (kan met rysmeel vervang word vir gluten allergie)
100 g mielieblom
500 g botter
4 hoender aftreksel blokkies (maak seker dit is preserveermiddel vry)
Plaas al die bestanddele in voedselverwerker en meng tot fyn en al die bestanddele ingewerk is. Plaas in lugdigte houer en stoor vir 3 maande in die yskas of vrieskas vir 6 maande.
Om te gebruik: voeg 3e – 4 e basiese soppoeier by 1 k (250 ml) water en gebruik dan om soppe en souse te verdik.
Gegeurde soppoeier
Sampioene: sien asb. die les oor Gedroogde Sampioene op my webtuiste: www.annelienpienaar.co.za. Gebruik 2 k gedroogde sampioene en 3-4 e uie vlokkies en voeg dit by die mengsel en verwerk met voedselverwerker tot so fyn as wat dit jou smaak pas.
Beesstert, skaapskenkel soppoeier: Vervang net die aftrekselblokkies en voeg dan kruie by soos 3-4 e roosmaryn, asook 3-4 e uie vlokkies en 2 t knoffel vlokkies.
Hoendersop: voeg 3-4 e uie vlokkies,4e dill tippies, 1 pakkie instant noodles gebreek

Meraai se Groente koekies
Ek weet nie of dit instink by kinders is om nie van groen kos te hou nie. My een seun het eendag luidkeels voor gaste gesê die kos is: “vrot!”. Ek het net vas gebyt en die groen groente vervang totdat ek hom uitoorlê het. Ek het sy gunsteling groente soos mielies by die fyn gerasperde murgpampoen gemeng. Raai wat? Die mannetjie eet groen groete! As ek nie murgpampoen het nie vervang ek met spinasie, brokkoli, groen boontjies en selfs eiervrug as die hoof groente. Vandag sy gunsteling dis!
Porsies: 8
2.5 ml (½ t) tiemie
2.5 ml (½ t) basil
250 ml (1 k) mielie pitte
2.5 ml (½ t) knoffel, fyn
500 g (4k) murgpampoen – gerasper
2.5 ml (½ t) sout
30 ml (2 e) olyfolie
4 eiers, geklits
125 ml (½ k) kaas
105 g (¾ k) koekmeel
2.5 ml (½ t) bakpoeier

Meng al die bestanddele saam en skep lepels vol op kleef vrye pan wat met olie uitgevee is. Maklike wenk vir eweredige porsies, gebruik ‘n roomys lepel om die beslag uit te skep. Bak aan beide kante tot goudbruin.

Hierdie beslag kan ook in ‘n wafelpan of toebroodjie maker gaar gemaak word. Ek het ook al dit in kolwyntjie pannetjies gebak en bietjie mozzarella oorgesit.

Soet glanswortels
500 g julienne wortel repies
250 ml water
¼ k witsuiker
3 e botter

Kook saam tot glansend en skep warm voor met hoender gereg.

Eenskottel hoender gereg
30ml Botter
1 kg hoenderstukke
Sout en peper na smaak
250g Sampioene, gesnipper
1 Ui, klein, opgekap
2 Knoffel toontjies, gekap
15ml Dill of Tiemie, gedroog
15ml Borrie
5ml Paprika, gerook verkieslik
100ml Wit wyn
125ml Hoender aftreksel
125ml Room
100ml Mayonnaise
3e Tamatie puree
100ml Blatjang
30ml Heuning

Braai die hoenderborsies met botter tot goudbruin aan die buite kant, maar nie gaar. Die vleis sappe moet net ingeseel word. Verwyder uit pan en sit in kasserol bak of “slowcooker”. Voeg die sampioene en uie by en braai verder tot die sap van die sampioene uitgekook is.
Slowcooker: Skep die uie en sampioene oor. Meng die res van die bestanddele en giet oor die hoender en groente. Laat die vleis kook vir ongeveer 6 ure in die Slowcooker.
Kasserol in die oond: Oond voorverhit na 180 ℃. Skep die uie en sampioene oor. Meng die res van die bestanddele en giet oor die hoender en groente. Laat die vleis bak vir ongeveer 2 ure.

Bron: Annelien Pienaar, www.annelienpienaar.co.za

Boerekos met ‘n Twist kookboek kan aanlyn by www.loot.co.za bestel word teen ‘n afslag prys met aflewering teen R289.

2018-05-14T18:19:04+00:005 Comments

5 Comments

  1. Dalene May 17, 2018 at 7:26 pm - Reply

    Waar kry ek gerookte paprika ? Ek woon in Paarl.Baie dankie

    • Annelien May 18, 2018 at 6:42 am - Reply

      Jy loop gereeld in die winkel daarby verby. Loer na die Cape Herb ‘n spice reeks. Ongelooflike goeie kwaliteit gerookte paprika. As jy sukkel kan jy hulle direk aanlyn kontak. Hul is van die Kaap self en die verpakkingsaanlegte ook daar. Groete Annelien

  2. Dalene May 19, 2018 at 9:10 pm - Reply

    Baie dankie vir die vinnige terug voer. Gaan Sondag die resep in swartpot maak.

  3. Dalene May 20, 2018 at 12:57 pm - Reply

    Hallo Annelien ek het die een pot hoender gereg in my swart pot op vuur gemaak. Dit was binne 1 en1/2 uur klaar. Die pot was leeg want dis so n lekker resep. Dankie ek sal dit weer maak.
    Groete
    Uit Paarl

    • Annelien May 20, 2018 at 7:09 pm - Reply

      Dankie vir die wonderlike terugvoering. BKT groete Annelien

Leave A Comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.