Nou goed, ek buig die knie! Daar was ‘n resep wat die rondte gedoen het wat skynbaar “Feta” genoem was. Wel dit is nie Feta nie! Hoekom nie? Kom ons gaan kyk eers na die proses waar Feta gemaak word. Dan sal julle beter die verskil tussen die Paneer en Feta kan sien. Ek skiet glad nie die resep wat aangestuur is af nie. Ek wil nie h Ek skiet glad nie die resep wat aangestuur is af nie. Ek wil nie hê julle moet die verwagting koester dat dit soos die winkel sin gaan wees nie. Hierdie Paneer het ‘n ander doel en is pap en nie so ferm en “mat” nie soos feta in ‘n soliede blok nie. Dit is amper smeerbaar.

Feta se proses
1. Pasteuriseer rou melk.
2. Inokuleer of suur jou melk aan met ‘n kultuur vir Feta, mesofiel.
3. Byvoeging van Rennet om die melk verder te laat stol.
4. Roer.
5. Inkubasie.
6. Pekeling.

*Opmerking: Punt 2 en 3 by die Feta proses kan nie omseil word nie. As jy kommersiële kaas wil maak dan moet jy kulture en rennet gebruik. Jy gaan nie sonder hierdie die kenmerkende Simonsberg, Spar, Checkers of Pick ‘n Pay teksture kan kry nie. Jy en jou termometer en horlosie gaan onafskeidbaar wees in hierdie proses!

Paneer se Proses/Die resep wat die rondte gedoen het as “Feta”
1. Melk word verhit.
2. Suur soos asyn, suurlemoensap of gewone yoghurt word bygevoeg vir aansuur.
3. Dreineer.
4. Geen pekeling.

Resep vir Paneer
2,4 liter Rou melk of melk wat net gepasteuriseer is en nie UHT ondergaan het
90ml Suurlemoensap, vars of (gee ‘n suurder smaak maar verdik vinniger)
125g Gewone yoghurt (gee ‘n romeriger smaak…en langer neem om te verdik)

Metode:
1. Verhit die melk oor medium hitte en roer aanhoudend sodat die melk nie kan aanbrand nie.
2. Sodra die melk begin kook draai die hitte laer en voeg die suurlemoensap of yoghurt by.
3. Jy behoort na ‘n minuut vlokkies in die melk sien vorm. Dit is die wrongel(soliede stukkies) genoem. Die waterige gedeelte is die wei. As dit nie gebeur nie moet die melk net aanhou verhit word by medium hitte totdat die vlokkies vorm.
4. Sodra die wrongel deeltjies vorm verwyder van die plaat. As jy die melk te lank verhit word die wrongel taai en hard…dit gaan proe soos uitveer wat jy eet!
5. Voer ‘n kolander of sif uit met kaasdoek en gooi die mengsel in sodat die wei kan dreineer.
6. Bind die punte van die kaasdoek saam en druk van die vog uit. Plaas die bondel dan op ‘n skinkbord wat met ‘n vadoek uitgevoer is. Plaas dan ‘n broodplank bo-op die bondel. Dan neem jy ‘n 2liter melk bottel en balanseer dit op die gedoente en laat dit dan so staan vir 4 ure sodat meeste van die vog kan dreineer.

Bron: Annelien Pienaar, 2013
Hoeveelheid: Ongeveer 450g Paneer

As jy wil feta maak…bespreek ‘n klas by my of bestel ‘n feta kit! boerekostwist@gmail.com