Piekel Uitjies

Piekel Uitjies

Piekeluitjies is soms so skaars soos hoendertande, maar as jy dit eers in die hande kry dan is die Kaap Hollands! Hierdie is een van my gunsteling resepte en male sonder tal mooi botteltjies gekoop vir die kosbare inhoud…dan ontvang ’n gelukkige gas hierdie as ’n teken van dankie. Ek sit soms en wonder of mense nog kan dankie sê soos vanmelewe se dae?

2 kg piekeluitjies skoongemaak
5 liter water
10 e sout

Meng die sout en water saam en roer totdat die sout opgelos het. Week die uitjies vir 12 ure in die oplossing.

Volgende oggend dreineer die uitjies en maak die volgende oplossing aan:

3 liter water
4 e sout

Meng die water en sout totdat die sout opgelos het in ‘n vlekvrye staal kastrol. Verhit die mengsel tot kookpunt en voeg die uitjies by en kook vir 10 minute.

Skep die uitjies uit en laat dan in skoon water bedek week vir ongeveer 3 ure. Dreineer die uitjies en druk effens droog. Plaas in gesteriliseerde flesse en druk stewig vas maar nie ingeprop.

1.5 liter wit druiwe asyn
5 e witsuiker
1 e mosterd saadjies
1 e vinkel saadjies
1 e dill tippies
1 e swart peperkorrels, grof gemaal
1 e rissie vlokkies, opsioneel

Sprinkel die kruie en speserye oor die uitjies in die botteltjies. Kook die asyn en giet oor die uitjies en skroef dadelik toe. Draai die bottels op hul kop en laat so afkoel. Die bottels moet ‘n digte seel vorm. Die dekseltjie sal induik. Stoor vir 12 maande.

Nota: Oorblywende asyn kan net weer gebottel word.

Bron: Annelien Pienaar, 17, Boerekos met ’n Twist toetskombuis.
Hoeveelheid: 4 botteltjies x 375 ml

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-10-30T15:12:10+00:00 0 Comments

Leave A Comment