Grootmaat Vanielje en Sjokoladekoek

Grootmaat Vanielje en Sjokoladekoek

Hierdie grootmaat Vanielje koekresep kan omgeskakel word na Sjokoladekoek. Deur net 60 g meel uit die beslag te haal en dan 60 g kakao by te voeg toor jy met die beslag. Die kakao word by die meel gesif. Die resep lewer 4 x 23cm ronde koeke of twee oondpanne of 4 ½ doz kolwyntjies. Die basis is ‘n olie sponskoek.

10 jumbo eiers, kamertemperatuur, geskei
470 g (2 k + 4 e) strooisuiker
15 mℓ (1 e) kremetart
190 mℓ (¾ k) sonneblom olie
250 mℓ (1 k) kraanwater
Knippie sout
455 g (3 k + 3 e) koekmeel
30 mℓ (2 e) bakpoeier
15 mℓ (1 e) geursel van keuse

Klits eiergele en strooisuiker tot lig en donsig vir ongeveer 5 minute. Klits dan die olie in ‘n dun straaltjie by en maak seker die mengsel is goed deur gemeng.

Sif die droë bestanddele (behalwe kremetart) alles saam en vou om die beurt met die water by die eiergeel mengsel in.

Klits die eierwitte en kremetart saam tot sagte maar stywe punte vorm. Dit is krities met hierdie deel van die klits proses om te weet, dat as jy te veel gaan klits, die koek uitermate gaan krimp en selfs platval as dit klaar gebak het. Maak dus seker jy klits nie dat die eierwitte droë bolle vorm nie.

Gebruik ‘n ballonklitser en vou die eierwitte in by die meel-en-eiermengsel. Skep dan in vooraf gesmeerde panne met die koekepan smeer op p.12 van Boerekos met ‘’n Twist kookboek.

Kolwyntjies: Bak vir 14-15 minute by 160 ℃
Groot koekie: 30-40 min by 160 ℃

Bron: Annelien Pienaar, 1996, Voedsel en Kleding

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-09-01T09:36:46+00:00 0 Comments

Leave A Comment