Krakerige Varkboud met heuning glanssous

Krakerige Varkboud met heuning glanssous

Varkboud is een van die lekkerste vleis stukke vir my om gaar te maak. In my resep maak ek van appelsap, heuning, balsamiese asyn en knoffel gebruik om die vleis heerlik sag en sappig te maak. Ek gaan met julle paar gaarmaak tegnieke bespreek want hierdie vleisie is ook heerlik oor die kole of in die oond. In die eerste stap word die vel eers bros gemaak vir daardie krakeling effek.

3-5 kg varkboud
1 liter wit appelsap soos grapetizer of gewone appelsap
10 knoffeltoontjies, geskil en halveer
125 mℓ (½ k) heuning
125 mℓ (½ k) balsamiese asyn
1 t mosterdpoeier
2e growwe sout
1 t fyn swart gemaalde peper
Beesspuit met dik naald

Bros maak van vel: Varkboud moet yskoud wees. Plaas die varkboud in wasbak. Kook ‘n kastrol met ongeveer 5 liter water met 4 e sout. Sny solank die varkboud se vel in ‘n ruitpatroon soos verkies en giet dan die kokende water oor die vark se vel, doen dit stadig. Die prop van die wasbak moenie in wees nie, water moet dreineer.

Sodra die proses voltooi is, steek klein gaatjies met ‘n groente messie in die boud en druk ongeveer tot by jou vinger se tweede lit, ‘n stukkie knoffel in. Hou so aan reg rondom die boud. Plaas boud in kasserol bak met dig passende deksel en sprinkel met sout en peper. Plaas in oond teen 160℃ vir eerste 1 ½ uur.

Haal boud dan uit en spuit dan in met helfte van die appelsap. Plaas terug in oond en herhaal na ‘n halfuur weer. Hoe gaarder die boud word, hoe makliker raak dit om die sap tussen die vleis se vesels in te spuit. Herhaal weer na 30 minute en bak oop, weer 30 minute.

Kook die heuning, balsamiese asyn en mosterd saam vir 5 minute. Smeer die mengsel oor die boud en draai die oond se hitte na 190℃ en bak 15 minute en smeer weer. Herhaal vir 2-3 keer. Die velle sal heerlik bros en taai wees. Sny vleis voor en bedien met heerlike Gekookte peperwortel mayonnaise in Boerekos met ‘’n Twist se kookboek op p.24 met Soetmosterd Aartappelslaai p.63

Bron: Annelien Pienaar, 2017, Vleisverwerking klas, Bos en Berg gasteplaas.
Hoeveelheid: 8 porsies.

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-08-10T08:47:18+00:00 2 Comments

2 Comments

  1. Marlene Pretorius August 10, 2017 at 8:07 am - Reply

    Annelien – wanneer word die sout en peper oor die boud gestrooi?

    • Annelien August 10, 2017 at 8:42 am - Reply

      Marlene,

      Omdat die boud met die soutwater gestrooi word, is die vleis reeds redelik sout. Jy kan sout en peper na eie oordeel oor strooi voordat jy bak. Groete Annelien

Leave A Comment