Karamel Hawermout koekies

Karamel Hawermout koekies

Hierdie beslag vertoon krummelrig as dit gemaak word en jy wil-wil nog vog bysit…maar dan begin jy bolletjies rol en plat druk. Sodra jy die oond deur oopmaak dan kry jy die grootste beloning vir jou geduld. Karamel en klapper geure trek deur die lug, die koekies is bros buite met so ‘n effense taai binnekant. Jy kan egter besluit of jy die koekies langer wil bak vir ‘n bros koekie wat met ’n klapgeluid breek. Hierdie koekies hou klein mensies se handjies vir lank besig. Tydens die bak van hierdie koekie het ek nie koekmeel gehad nie en broodmeel gebruik. Ek het egter 30 mℓ mielieblom by die broodmeel gevoeg om die proteïen inhoud van die meel te verlaag om ’n sagte tekstuur koekie te kry. Beide Eurekamills se brood en koekmeel is geskik om die koekie mee te bak.

Met die fotografering van hierdie koekies het ek die kamera op gestel en ouboet gevra om sussie dop te hou terwyl ek gou die ander koekies uit die oond haal. Later met die aflaai en verwerking van die foto’s ontdek ek ouboet se goeie oog met sussie wat koekies steel!

250 g (1 k) botter of bakkers margarien
2 k (400 g) witsuiker
2 k oats
2 k klapper
1 e koeksoda
4 e stroop (gegeurde stroop is ook heerlik soos esdoring)
4 e kookwater
2 k (280 g) koekmeel

Voorverhit oond na 180 ℃ en berei twee bakplate voor vir die koekies. Jy gaan hierdie plate ongeveer 4 keer weer gebruik.

Klits die botter en witsuiker saam tot lig en donsig.

Meng die hawermout en klapper saam. Voeg kookwater by die stroop en roer tot opgelos. Voeg die koeksoda by en meng deeglik om klonte te verwyder. Klits dan by die bottermengsel in.

Voeg die klapper mengsel by die bottermengsel en meng goed deur. Laaste werk die koekmeel deeglik deur die mengsel. Meet met roomys scoop 15 mℓ balletjies af. Druk met drie vingers langs mekaar effens plat.

Bak vir 10 minute by 180℃ en dan vir 5-8 minute by 150℃ totdat koekie goudbruin is en gekraak het.

Bron: Annelien Pienaar, 2017, Koekiebak klas vir Geskenke uit jou koskas
Hoeveelheid: 60 koekies of meer.

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-07-29T13:50:38+00:00 0 Comments

Leave A Comment