Vis koekies of poffertjies

Vis koekies of poffertjies

Hierdie veelsydige reseppie kan met enige vis vervang word. Ek het onlangs Pilchards gebruik in die plek van die gewone vis. Dreineer net die stukke baie goed en hou die sousie om later oor die gaar poffertjies te bedien. Ek sit die poffers vir die kinders in hul kosblikke, bedien dit as ‘n ligte middagete of as ‘n vinger happie vir die manne as hulle maters kom kuier. Vries ook baie goed en kan reeds vooraf berei word.

450 g Vis filette – gaar gestoom of in melk geposjeer
500 g Gaar aartappels – geskil en fyn gedruk
1t Dill tippies of tiemie, gedroog
Sout en peper na smaak
Brood krummels
2 Eiers geklits
Koekmeel
Olie vir diepvet braai

Posjeer die filette in bietjie melk tot gaar. Posjeer beteken net liggies gaar maak by matige hitte sodat die vis nie taai word en uit droog. Dit neem ongeveer 10 minute op die langste om gaar te word. Dreineer die vloeistof en maak die vis fyn.

Kook dan die aartappels in lig gesoute water met skil tot sag. Trek skilletjie af en druk fyn sonder enige botter of melk. Meng met die vis en sout en peper na smaak. Dill is nogal ‘n heerlike krui om saam met kappok aartappels en vis te gebruik asook bietjie neutmuskaat.

Laat die effens koel en maak ongeveer 50 g balletjies. Plaas die balletjies op ‘n bakplaat en verkoel vir 1 uur. Sodra die balletjies ferm is kan jy dit in koekmeel rol en dan bak in vooraf verhitte diep olie. Jy kan ook die balletjies nadat dit in die meel gerol is vries en dan later soos nodig is gebruik.

of vir viskoekies:

Maak 100g hopies wat jy netjies in ‘n pattie vorm. Plaas op bakplaat en sit in vrieskas om styf te word. Net voordat jy dit bak, haal uit, plaas in eier, en dan krummels. Druk die krummels lekker vas en bak in vlak vet of in die oond vir 25minute.

Dreineer en bedien warm.

Bedienings voorstel: p.24 in Boerekos met ‘’n Twist kookboek is Ouma Hantie se ongelooflike Knoffelroom sous.

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-07-17T10:43:15+00:00 2 Comments

2 Comments

  1. Wendy July 17, 2017 at 2:37 pm - Reply

    Ek gebruik gerookte snoek. Ongelooflik lekker.

    • Annelien July 17, 2017 at 3:54 pm - Reply

      Dit is voorwaar ‘n blink idee en ek gaan volgende keer dit probeer. Dankie vir die saam kuier op BKT. Groete Annelien

Leave A Comment