Tamatie en Koljander sop

Tamatie en Koljander sop

Soms wens jy dat geure deur die skerm geruik kan word, want hierdie foto van die Tamatie en vars koljander sop is net ongelooflik. Die suur van hierdie sop word perfek gebalanseer met die soutigheid van gekrummelde feta kaas in die sop. Hierdie sop kan baie mooi bedien word met die elemente van feta, vars brood, ekstra koljander blare en room indien verkies. Dit is ’n dun sop en nie romerig, maar kan wel verdik word met die byvoeging van ekstra room. Jy sal verstaan wat ek bedoel met die eerste proe hoekom hierdie so ’n ongelooflike gereg is. Een van my gunsteling aspekte van hierdie sop is die feit dat dit binne 20 minute op die tafel kan wees! Jy kan kortpad neem en geblikte tamaties gebruik indien verkies.

Indien tyd jou beskore is, gebruik Roma kersie tamaties wat met olyfolie gesmeer word en dan vir 30 minute in die oond gebak word. Die skilletjie trek perfek af en die tamaties se natuurlike soetheid kom sterk deur. Verder kan die basis sop sonder die feta en room perfek gevries word vir ongeveer 3 maande. Maar in my huis met die honger Filistyne is dit haas onmoontlik.

500 g rooi ryp tamaties
2 e olyf olie
1 ui, fyngekap
1 seldery stingel fyngekap
1 liter groente aftreksel
50 mℓ tamatiepuree
¼ t knoffel, fyn
1 k koljander blare, vars (cilantro) liggies in gedruk
250 g feta kaas, gekrummel
250 mℓ room
Sout en peper na smaak

Blansjeer die tamaties deur dit in kokende water te dompel vir 2 minute, verwyder en plaas in yskoue water en trek skille af. Kap tamaties fyn of soos verkies in voedselverwerker.

Braai ui en seldery in olyfolie tot glansend in diep sop kastrol. Voeg verwerkte tamaties, aftreksel, knoffel, tamatiepuree by en kook vir 15 – 20 minute met die deksel oop. Indien vars tamaties gebruik is, moet die tamaties sag gekook wees.

Geur die sop met sout, peper en grof gekapte koljander blare skep in vooraf verhitte sop bakkies om te verhoed dat die sop gou koud word. Krummel feta en room in middel van sop en bedien met snytjies brood.

Smaaklike ete!

Bron: Annelien Pienaar, Soppe en souse klas 2016
Sopbakkie: Keramiek kunstenaar, Diana Ferreira
Hoeveelheid: 6 porsies

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-06-28T05:34:55+00:00 0 Comments

Leave A Comment