Gekookte Klapperys

Gekookte Klapperys

Moeder het ons altyd geleer om met die suiker termometer te staan en elke paar minute die aankondiging te doen waar die temperatuur trek. Wat ek nou eers as grootmens besef is dat, moeder ons so gekul het. Want dit neem omtrent 5 na 10 minute vir 1 grade om op te gaan. Hoe dit ook al sy, ons het so speel-speel saamgewerk en moeder gehelp. Daar is net geen vergelyke vir hierdie gekookte weergawe nie. Die stroop wat gekook word en die proses is amper soos om fondant te maak. Kom ons begin.

Die onderstaande bestanddele moet twee maal afgemeet word, 1 kooksel per kastrol. Begin die twee kooksels ongeveer 10 minute uitmekaar, sodat die wit laag effens kan set (maar nog lou) voordat die pienk of kleur van jou keuse oorgesit word.

400 g (2 k) witsuiker
150 g / mℓ water (ja water kan geweeg word)
2 mℓ kremetart
Knippie sout
15 mℓ glukose stroop
5 mℓ vanieljegeursel en rooswater vir die pienk indien verkies
5 mℓ kleursel van keuse
160 g (2 k) fyn klapper
Olie of suiker termometer

Berei ’n rolkoek pannetjie van 20 x 30 cm voor deur met waspapier uit te voer. Hou eenkant.

Begin met kastrol 1. Voeg die suiker, water, kremetart, sout en glukose stroop saam. Verhit oor matige hitte sonder om te kook. Roer met houtlepel totdat suiker opgelos het, neem kwassie met water en vee kante van kastrol sodat suikerkristalle kan oplos.

Sodra die suiker opgelos het kook die mengsel dan oor matige vinnige hitte totdat dit 115 ℃ lees. (*Begin nou weer met die tweede kastrol en doen dieselfde proses.) Haal die eerste kastrol van die hitte af en roer af en toe totdat die mengsel 60 ℃ bereik het.

Voeg dan die klapper en geursel by en roer goed deur tot lig en romerig. Sprei uit op voorbereide bakplaat.

Hou in die tussentyd die tweede katrol dop en voltooi die proses soos vir die wit laag. Ek het crimson pienk gebruik in die foto. Die rooswater en pienk werk heerlik saam met die onderste wit vanielje laag. Sprei die pienk laag oor die louwarm wit laag en laat goed afkoel voordat die blokkies gesny word. Daar is natuurlik niks wat jou keer om in verskillende kleure te werk en ook die gestolde mengsel met koekie drukkers uit te druk…hasies vir baba tee, klokkies vir bruidstee ens…

Bron: Annelien Pienaar, 2017, Suiker klas uittreksel.
Hoeveelheid: 24 blokkies

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-06-23T14:04:13+00:00 0 Comments

Leave A Comment