Sjokolade smeer

Sjokolade smeer

Hierdie sjokolade smeer het meer as een variasie. Jy kan besluit hoe luuks jy wil gaan met die sjokolade. Iemand op die Boerekos met ‘n Twist groep het gevra vir ’n Nutella resep en hierdie was ’n variasie op laas genoemde. Ongelukkig is die neute pasta skaars soos hoendertande in Suid-Afrika. Hierdie resep kom van my dierbare vriendin Santie Hanekom van België. Ek het so ‘n effense bloutjie geloop met my aankope. Nie bril opgehad, die etiket herken en gegryp, met ‘n sussie wat agterna fladder en kerm om alles in die winkel te koop. Tuis gekom is dit ‘n blikkie dessert room wat net mooi niks help vir die dilemma nie en al wat staan en loer is die blik karamel. So, die resep benodig 1 blik gewone kondensmelk…maar ek moet mos nou skuins wees en die hele blik karamel ingesit. Ek wou opsluit daardie aand sjokolade smeer op pannekoek en plaatkoekies proe.

Indien jy die karamel opsie doen smelt die karamel eers vooraf en klits die klonte mooi uit. Die karamel gee meer ‘n souterig smaak aan die sjokolade wat dit nie so soet maak soos die kondensmelk nie. Dus, het jy nou twee opsies hoe soet jy wil gaan.

250 g Belgiese sjokolade (kan met ander sjokolade vervang word)
250 g Botter (ongelukkig moet dit botter wees anders kry jy klonte)
1 blikkie kondensmelk of karamel
1 t vanieljegeursel of rum geursel

Kap sjokolade effens en plaas in dubbelkoker om te smelt. Sodra dit gesmelt is roer die botter by totdat dit glad is. Roer dan die kondensmelk of gesmelte karamel by asook geursel van keuse.

Skep in gesteriliseerde fles en hou lugdig. Die produk bly goed sonder om in die yskas gestoor te word vir 6 weke.

Geniet sommer lepels vol op en alles!

Bron: Santie Hanekom, Belgie, Annelien Pienaar, Boerekos met ‘n Twist kookboek, 2017
Hoeveelheid: 500ml ongeveer

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-06-12T06:56:30+00:00 0 Comments

Leave A Comment