Piesang en toffie tert- Banoffee pie

Piesang en toffie tert- Banoffee pie

As daar nou een ding is wat die Kanadese my goed leer maak het dan is dit “Banoffee pie”, ’n kruising tussen ‘n karamel en piesangtert afgerond met heerlike versoete room, ‘n piesang en toffie tert!. Die kors is net so lekker soos die karamel vulsel. Nie karamel kondensmelk nie, jy maak jou eie toffie, ek gebruik ook hierdie toffie vir my roomys souse!

Moenie probeer om UHT geblikte room styf te klits nie, dit werk nie so goed soos vars room nie. Indien jy die UHT room moet gebruik, maak seker dit is yskoud.

Nog ‘n wenk wat wonderlik werk vir ringkoek panne, flan panne met los bome: is om ‘n bakplaat in die oond te sit en vooraf warm te maak. Sodra die gebak in die oond gaan, sal die hitte van die plaat die basis van die tert verhit en die vulsel help stol voordat dit kan uitloop.

Kors
160 g (1 k, 4 t) koekmeel
115 g botter (½ k) – in blokkies gesny
60 g (½ k) strooisuiker
knippie sout
knippie kaneel
Bietjie ys water om deeg aan mekaar te kry (so 2-4 eetlepels)

Voorverhit oond na 160 ℃ met ’n bakplaat in die oond. Berei tertpan voor met kleefwerende kossproei.

Plaas koekmeel, sout en botter in ‘n voedselverwerker en draai die lem totdat die mengsel soos brood krummels lyk.

Voeg suiker by en meng totdat die deeg ‘n sagte bal vorm, indien die deeg te hard is, kan die koue water bygevoeg word. Laat vir 10 minute in die yskas rus. Rol ongeveer 3 mm dik uit en voer ‘n flan pannetjie (23cm deursnit) of ‘n gewone pannetjie met die deeg uit. As jy nie vertroud is met ‘n rolstok nie druk dit met jou vingers in die pannetjie vas. Plaas dan kleefplastiek oor die deeg en vryf plat met ‘n lepel se agter kant!

Bak die deeg blind vir 10 minute en verwyder en bak weer vir 20 minute totdat dit deur gaar en klip hard is. (Blind bak, sit lagie bakpapier in die deeg en vul op met bone)

Laat goed afkoel voordat jy die vulsel insit. Ek maak baie keer die deeg dubbeld aan en vries die klaar gaar korse vir lemon meringue, kondensmelk tert en enige ander stol terte.

Vulsel
110 g (½ k) botter – in blokkies gesny
210 g Kondensmelk
120 g (½ k) sagte bruin suiker
2 e goue stroop
2 piesangs – in ringetjies gesny – in suurlemoen water
Vars room (nie die in UHT lang lewe nie)
50 g gerasperde sjokolade (jou gunsteling)

Smelt die botter, kondensmelk, bruinsuiker en goue stroop oor lae hitte in kastrolletjie. Roer versigtig en gedurig om aanbrand te voorkom. Die mengsel is gereed sodra al die suiker opgelos het.

Kook dan vir ongeveer 7 – 10 minute op medium hitte totdat die mengsel verdik en ‘n pragtige fudge kleur word.

Gooi die karamel vulsel in die tert kors en laat goed afkoel voordat die piesangs op gesit word.

Rangskik die piesang skywe op die karamel. Sprinkel met neute as jy wil.

Klop die vars room styf en spuit of smeer oor die piesangs. Sprinkel met soveel sjokolade soos jy wil.

BRON: Annelien Pienaar. 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-05-29T15:57:35+00:00 0 Comments

Leave A Comment