Melktert

Melktert

Hierdie wonderlike melktert resep is al vir 10 generasies in die familie en het nog nooit teleurgestel nie. My hart raak sommer week as ek dink, Ma se hande, hulle was altyd so sag en het to so lekker gewerk, van kosmaak, koekbak, ruggies krap, tere herinneringe.

Belangrike inligting
1. Die eiers moet baie goed met die suiker verroom word totdat dit ‘n dik massa word. Sonder om te tegnies te raak is die klitsery se werk om die eier te laat stol (koaguleer) amper soos om dit gaar te maak. Hier word dit net met ‘n klitser gedoen. Die mengsel gaan direk in die warm kokende melk en dit gaan skif as dit nie genoeg geklits is nie. 5-8 minute op hoog.

2. Voeg eers een koppie kokende melk by die eiermengsel om te voorkom dat die eier skif. Giet die eiermengsel direk in die kokende melk.

3. Sodra die mengsel gaar is moet dit weer deeglik geklop word om dit satyn sag en egalig te maak.

4. Smeer altyd die bodem van jou kastrol met olie voordat jy die melk ingooi om te verhit. Dit help voorkom dat die melk vasbrand.

1 liter melk
6 eiers
1 kop suiker
3 el mielieblom – gelyk (45 ml) (maizena)
3 el koekmeel – gelyk (45 ml)
3 el botter
1 tl vanielje geursel

Jy het ‘n kastrol met ‘n volume van 5 liter nodig vir hierdie melktert anders kook die inhoud later oor. Verhit die melk tot kookpunt.

Klits die eiers en suiker saam vir 5 minute op hoog of totdat dit dik en romerig en lig van kleur is. Voeg dan die mielieblom en koekmeel by en klits deeglik sodat daar geen meelklonte teenwoordig is nie.

Sodra die melk begin kook voeg eers ‘n koppie melk by die eiermengsel, klop deeglik deur en voeg dit terug by die kokende melk en klop een maal goed met draadklitser.

Hier kom die geheim – presies 10 minute van kook! Verlaag die hitte na stoof plaat 2 of vir gas na die laagste verstelling. Plaas deksel op en moenie oplig voor 10 minute verby is nie.

Na 10 minute voeg botter en vanielje geursel by en met behulp van ‘n ballon klitser (whisk) klop sodat die mengsel glad en satynagtig word.

Skep dadelik in voorbereide tertkorse. Of as die pap gebruik word vir spuit van doppies en ook poffertjies, skep in bak, smeer klontjie botter oor die oppervlakte en druk ‘n stukkie kleef plastiek bo-op. Dit voorkom dat ‘n velletjie vorm wat dalk die spuitpunt sal verstop. Sodra goed afgekoel…klits goed en plaas in spuitskak.

Kroek kors
1 pak Tennis beskuitjies – fyn gemaak
100 g botter

Maak die tennisbeskuitjies fyn in voedsel verwerker en gooi die gesmelte botter by die mengsel.

Druk in gesmeerde pan. Gebruik dadelik.

LEWER: 3 x 23 cm terte.

BRON: Hantie Bezuidenhout.

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-05-27T12:56:22+00:00 4 Comments

4 Comments

  1. Hettie May 29, 2017 at 12:14 pm - Reply

    Hallo Annelien, ht jy nie asb vir my ‘n wildsresep vir pastei nie?

    • Annelien May 29, 2017 at 2:41 pm - Reply

      Loer onder die afdeling vir vleis, daar is resepte…anders vra op Boerekos met ‘n Twist groep op Faceboek…ons help daar ook met die nodige inligting. Laat weet as jy nie reg gekom het nie. Groete Annelien

  2. Tokkie June 3, 2017 at 12:19 am - Reply

    Hi Annelien het jy dalk die smeerkors wat die ouer mense gebruik vir melktert se resep asb

    • Annelien June 5, 2017 at 7:10 am - Reply

      Ek sit vir jou die link op die Boerekos met ‘n TWist groep op FB. Dit staan bekend as Smeerkors.

Leave A Comment