Geurige Kaastertjies

Geurige Kaastertjies

Hierdie is weereens een van daardie uiters praktiese reseppies. Jy kan deur net ‘n koppie spek, ham, gaar hoender, vis, groentes by te sit, die hele resep weer verder omskep in iets uniek. Die korsie is maklik en hanteer soos ‘n droom.

Deeg
140 g Koekmeel
Knippie sout
5 ml Bakpoeier
60 g Botter
1 Eier – geklits
2 e Yswater of meer totdat ‘n sagte deeg vorm

Sif die koekmeel, sout en bakpoeier saam.

Vryf die botter met vingerpunte in en voeg dan die water en eier by. Indien die vog nie genoeg is om ‘n sagte deeg te vorm moet jy nog bietjie koue water byvoeg. Die deeg moenie droog en hard voel nie. Druk die deeg goed aan mekaar deur liggies te knie. As die deeg oorwerk word kan dit baie erg krimp tydens die bakproses.

Laat die deeg 20 minute rus en rol dan baie dun uit so dik soos ‘n sosatiestokkie. Druk dan sirkeltjies uit groot genoeg om in ‘n kolwyntjie pan te pas. Plaas dan in gesmeerde kolwyntjie pannetjies.

Vulsel
2 e Botter of bakmargarien
½ k Vars broodkrummels
2 Eiers – geklits
1 k Cheddar – gerasper
Knippie sout
¼ t Mosterd poeier
⅛ t Rooi peper (caynne peper)
¼ k Melk
¼ k Room of yoghurt
1 t Bakpoeier
50 ml Koekmeel

Variasie: 250ml Ham, spek gaar, tuna, maalvleis gaar, biltong ens kan bygevoeg word.

Meng die botter met die broodkrummels en voeg die geklitste eier by.

Roer die kaas, sout, mosterd, rooipeper by.

Voeg die melk, room by die mengsel. Roer die bakpoeier en koekmeel laaste by en meng baie deeglik.

Skep lepels vol in die tertdoppies en bak afhangende van die grootte vir ongeveer 15 – 20 minute by 180 ˚ C. Sprinkel enige groen kruie van keuse oor.

LEWER: 12 groot en 24 klein kolwyntjies.

BRON: Annelien Pienaar, 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-07-19T09:31:16+00:00 0 Comments

Leave A Comment