Kaap Maleise Klapper Koeksisters

Kaap Maleise Klapper Koeksisters

My vriendin Cariema Isaacs, outeur van “My Cape Malay Cooking”, het al die pad van Dubai vir my kom kuier en geleer “Cape Malay” koesisters bak. Wat ‘n ongelooflike ervaring was dit nie, om haar te sien werk, die passie en die deernis waarmee sy die stories van haar familie vertel. Die uniekheid van hierdie resep lê op gesluit in die gedroogde nartjie skil wat in die stroop gebruik word. Die stroop is gegeur met kaneel en komyn en die koeksister self heerlik sag en perfek. Op ‘n stadium terwyl Cariema so werk, staan sy ook en roer aan ‘n ander kastrol waarin haar hoender kerrie en bryani aan die kook is.

Die geure van die masala wat sy in die kerrie gebruik tref my siel en vir ‘n wyle moet ek eers my self verskoon, want skielik sien ek my ma voor my. Ek staan buite en staar na die gras en ek sien weer hoe my ma se hande vaardig haar masala braai en die uie roer. Ek sluk en vee die trane af, ek draai terug na die weelde van daardie aller bekende geure en staan langs hierdie klein vroutjie en bewonder haar fyn kennis van kruie en speserye. Daardie aand het ek aan Cariema se tafel gesit…my gas kook vir my! Ons het heerlik geëet en gekuier, die nagereg, hierdie wonderlike koesistes se bergie het gou verdwyn. Want na die eerste happie was ek verslaaf…ek het gaan tee maak en nog so drie het verdwyn. Cariema het diep binne my, weer mooi goed wakker gemaak. Ek is begeerster om Cariema se hele boek deur te kook en net te delf in haar onuitputbare bron van kennis en haar geur ryke familie kosgeskiedenis. Dankie Cariema Isaacs vir die onvergeetlike kuiertjie en Turhaan vir die mooiste foto’s van my ateljee en die plaas.

Cariema se My Cape Malay Cooking, is tans landswyd op die rakke beskikbaar, vol familie juwele!

Deeg
840 g (6 k) koekmeel
100 g (½ k) wit suiker
2.5 mℓ (½ t) sout
10 g , 1 pakkie kitsgis
10 mℓ fyn kardamom
15 mℓ fyn gemmer
10 mℓ fyn kaneel
10 mℓ anyssaad
1 jumbo eier
60 mℓ (4 e) botter
375 mℓ kraanwater
375 mℓ lou melk
1.5 liter olie
500 g fyn klapper

Sif al die droë bestanddele saam en vryf die botter in die meel in met vingerpunte. Meng die eier, water, melk saam. Maak ‘n holte in die meel mengsel en voeg die vloeistof by. Knie die deeg totdat dit los kom van die bak en ook jou hande. Ongeveer 8 minute se knie.

Plaas deeg terug in bak en bedek met kleef plastiek. Laat deeg vir 1-2 ure op ‘n warm plek rus totdat dit verdubbel het in volume. Knie die deeg af en rol in ‘n langwerpige worsie en sy 3 cm skywe.

Plaas die skywe op ‘n gesmeerde bakplaat en rek die deeg om ‘n ovaal vorm te maak. Los deeg om dan vir 15-20 minute te rus en uit te rys.

Verhit die olie in diep kastrol en maak die stroop aan.

Stroop
400 g (2 k) witsuiker
400 mℓ (2 k) kraanwater
1 kaneelstokkie
30 mℓ (2 e) komyn saad (cumin)
3 stukke nartjie skil, gedroog

Plaas water en suiker in kastrol en roer oor lae hitte totdat die suiker opgelos het. Kook vir 8 minute met die kaneelstokkie, komyn saad en gedroogde nartjieskil. Hou die stroop eenkant en maak effens warm sodra die koeksisters uit die olie kom.

Braai van koeksisters
Plaas deeg stukkies in voor verhitte olie en braai tot mooi bruin aan beide kante. Hou die koeksisters in die lou oond warm en sodra al die koeksisters gebak is bedruip met die warm stroop. Draai die koesisters sodat dit die stroop opneem.

Rol dan die koesisters in klapper en bedien louwarm.

Wenk: Kleur die klapper deur 2 k klapper in ‘’n sakkie te plaas en paar druppels koek kleursel in te drup en vryf die sakkie tussen jou handpalms en hou so aan totdat al die klapper bedek is. Hierdie koesisters vries baie goed.

Bron: Cariema Isaacs, My Cape Malay cooking boek.

Hoeveelheid: 40 Koesisters

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-05-12T06:10:40+00:00 0 Comments

Leave A Comment