Brandy Snaps / Gemmer rolletjies / Obletjies

Brandy Snaps / Gemmer rolletjies / Obletjies

Menige Voedsel student sal vir jou vertel dat hierdie hul gevreesde nagereg is om te trek, as dit by eksamen kook kom. Tegnies as jy nie weet wat jy doen nie, jou tydsberekening nie mooi uitwerk, kan jou rolletjies brand of selfs hard word op die plaat sonder om dit gevorm te kry. My beste raad is: lees die resep met die les volledig sodat jy nie jouself vasloop teen tyd. Die moeilikste deel kom in by die bak en die spasiëring van die degie. Sodra die gebak uit die oond kom, moet jy so vinnig moontlik die sirkeltjie vorm soos jy wil. Dit kan in ‘n sigaar gevorm word of dit kan oor ‘n glas gehang word om ‘n mandjie te maak of selfs in ‘n roomhorinkie. Maak seker jy gebruik ook ’n teflon matjie om op te bak want dan is jy verseker die sirkel kom maklik af sonder om dit te breek.

Die Nederlanders maak Obletjies met hierdie beslag deur die degie in ‘n toeknyp pannetjie te bak wat ‘n “waffle iron” of “kniepertjes ijzer” genoem word. Gewoonlik een-een oor die stoof se plaat gebak.

115 g (½ k) botter (ongelukkig net botter)
100 g (½ k) witsuiker
175 g (½ k) goue stroop
140 g (1 k) koekmeel
5 mℓ (1 t) fyn gemmer
Knippie sout
15 mℓ (1 e) brandewyn (indien sonder alkohol wil maak: vervang met water)

Berei twee bakplate voor met ’n teflon vel of gebruik ‘n kleef vrye bakplaat en hou een kant. Voorverhit oond na 180 ℃. Smeer paar houtlepels se agter kante met botter of olie vir die oprol van rolletjies of as jy bakkies maak, smeer paar glase se bodems.

Smelt botter, witsuiker en goue stroop oor matige hitte totdat al die suiker kristalle opgelos het. Haal van hitte af en laat rus vir 5 minute.

Roer met ‘n draadklitser die koekmeel, gemmer en sout by die afgekoelde mengsel. Daarna die brandewyn.

Skep ongeveer 5-10 mℓ sirkels ongeveer 7 cm uitmekaar op die bakplaat. Ek vind dat ‘n diamant patroon meer sirkels inpas as om in rye te werk.

Bak vir 10-15 minute totdat die randte effens verbruin. Hier bo in Gauteng en Noordwes is 10 minute genoeg. Maak seker jy pas die eerste baksel goed op sodat jy jou tyd kan notuleer.

Sodra die sirkels gereed is, haal uit oond en werk nou baie vinnig. Lig die sirkel sagkens met slap lem mes op. Doop maar die mes se punt in botter net om vassit te voorkom. Rol dan die rolletjie of vou oor glas. Die rolletjies en bakkies sal dadelik set.

Stoor die rolletjies en bakkies in lugdigte houers met lae waspapier tussenin op die rak. Moenie vries nie, die gebak sal taai wees en pap word.

Garnering
100 g bakkers sjokolade gesmelt
100 g geroosterde amandel splinters

Doop punte van rolletjies of bakkies in die sjokolade en sprinkel dadelik met neute. Plaas eenkant om af te koel voor vulling.

Vulsel
250 ml koue room
1 e brande wyn
4 e strooisuiker

Plaas ‘n sirkel spuit punt klein genoeg om vulsel in rolletjies te kan spuit in spuit sak en vul met room. Vul die rolletjies en hou in die yskas tot bediening.

Bron: Annelien Pienaar, Patisserie klas 2015
Hoeveelheid: 30 rolletjies of meer.

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-05-03T14:49:25+00:00 0 Comments

Leave A Comment