Wit Karringmelk beskuit

Wit Karringmelk beskuit

Hierdie beskuit is die heel lekkerste as dit in bolletjies gevorm word en nie in vingers gesny. Daar is net daardie brosheid wat anders is. Jy kan natuurlik die snyer gebruik en vooraf sny…maar ek hou van rol soos ouma dit nog gedoen het. Vir my altyd die grootste bederf gewees as ek my proeseltjie in ma se loopsloop gekry het, as ek terug Varsity toe. Geniet.

1.5 kg Koekmeel (bruismeel kan gebruik word, laat dan net die bakpoeier en koeksoda uit)
5 ml Sout
10 ml Kremetart
4 t Bakpoeier
2 t Koeksoda
500 g Botter
400 g Suiker
500 ml Karringmelk
1 Eier – geklits

Sif al die droë bestanddele saam behalwe die suiker.

Smelt die botter en suiker saam, laat afkoel tot kamertemperatuur en voeg die eier en karringmelk by.

Meng die nat en droë bestanddele saam, moenie knie nie, druk net aan mekaar, jy wil nie gluten ontwikkel nie.

Spuit ‘n oondpan met kleefwerende sproei en deel die deeg in 40 bolletjies. Ek weeg die deeg en deel dit dan deur 40 om die gewig vir elke bolletjie te kry. Maak bolletjies en pak in pan. Jy kan ook in gewone brood panne bak, jou keuse hoe groot jy die bolletjies wil hê.

Bak by 180 ˚ C vir 45 – 60 minute, laat die beskuit effens afkoel, keer uit die pan en breek in stukkies op. Droog by 100-110C vir 5 ure.

Bron: AnnelienPienaar, Beskuit klas 101

Hoeveelheid: 40 bolletjies

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-05-09T16:40:52+00:00 0 Comments

Leave A Comment