Romany Creams

Romany Creams

Groot dank aan my Kos-ikoon, Caroli de Koster en outeur van menige kookboeke vir haar wonderlike resep wat sy met ons deel. Indien dit jou ooit beskore kan wees om haar boek reeks: The Art of Cooking aan te skaf, sal ek jou beloof, die boeke is van hoogstaande gehalte wat Vakkundige inligting aanbetref. Grootste belegging wat ek jare gelede as jong Voedsel dosent gemaak het!

Hierdie reseppie is ’n “no nonsense” resep. Al die bestanddele word opeens saam geklits, gerol en gebak. Sommerso een, twee, drie en jy is klaar. Vir my hang die sukses van die koekie af van die smeer wat gebruik word. Hou by die drie wat ek aanbeveel. Jy kan later goedkoper gaan as jy waaghalsig wil wees…vir eers wil ek verseker dat jou eerste poging ’n klinkende sukses sal wees.

250 g (1 ¼ k) botter of Rama/Stork bake margarien
210 g (1 k) strooisuiker
280 g (2 k) koekmeel
5 mℓ (1 t) bakpoeier
60 mℓ (4 e) kakao
120 g (1 ½ k) klapper
2.5 mℓ (½ t) sout
5 mℓ (1 t) vanieljegeursel
15 mℓ (1 e) melk

Berei bakplate voor met Koekepanne smeer van die blog. Voorverhit oond na 180 ℃.

Hand elektriese klitser: Klits botter en strooisuiker saam tot lig en donsig. Voeg dan die res van die bestanddele by en knie liggies.

Staan menger: Gebruik deeg hak en meng al die bestanddele saam totdat ’n deeg vorm.

Indien dit ’n warm dag is en die mengsel is effens pap, verkoel vir 30 minute voordat jy balletjies maak. Ek plaas ook my bakplate in die vrieskas as dit so warm is, die koekies bak net beter.

Meet 1 e (15 mℓ) deeg af of druk deur koekie drukker. Rol balletjies en spasieer 20 mm uitmekaar. Druk die koekies effens plat met vurk indien bolletjies gemaak is.

Bak vir 10 minute by 180 ℃. Sodra koekies klaar gebak het, haal uit panne en laat afkoel op draadrak.

Smelt 200g bak sjokolade in dubbel koker. Die water moet net effens kook en die bak wat bo die kastrol hang moenie aan die water raak. Plak die koekies twee-twee op mekaar.

Bron: Carolie de Koster, Art of Cooking, 2016
Hoeveelheid: 60 halwes of 30 koekies.

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-04-21T06:24:33+00:00 0 Comments

Leave A Comment