Konfyt Skywe

Konfyt Skywe

Ek dink die ou mense het ook maar geleer om met een deeg te toor. Hierdie deeg resep kom uit een van my oorlede moeder se “Bezuidenhout-familie” resepte boeke. Die kant nota dui aan dat ouma Kit hierdie resep vir haar Appelkrummel tert ook gebruik het. Dan was daar nog vele variasies wat sy gedoen het met hierdie deeg. Ek sal nog vir julle paar weergawes van hierdie veelsydige deeg gee soos die tyd aanstap. Dus, hierdie deeg is die perfekte basis vir speel.

250 g botter of goeie kwaliteit bakkers margarien
250 g strooisuiker
2 eiers
15 mℓ (1 e) vanieljegeursel
560 g (4 k) Eureka Mills koekmeel, gesif
20 mℓ (4 t) bakpoeier
½ t sout
250 mℓ appelkooskonfyt of enige ander stywe konfyt van keuse
Versiersuiker vir versiering

Voorverhit oond na 170 ℃ (thermofan) en 180 ℃ (konvensionele oond). Smeer ‘n bakplaat van ongeveer 30 cm x 30 cm en plaas eenkant.

Room botter en strooisuiker saam vir 5 minute tot lig en donsig.

Klits eiers een vir een in by die geroomde mengsel. Laaste klits die vanieljegeursel by.

Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam. Meng die meel by die eiermengsel en druk die deeg aan mekaar sodat dit ‘n bol vorm. Deel die deeg in die helfte en druk een helfte in die gesmeerde pan. Smeer die konfyt mildelik oor die deeg en rasper die res van die deeg oor die konfyt.

Bak vir 20-30 minute tot goudbruin.Die koekies is baie bros as dit warm is. Dit is beter sny dit as dit lou is, laat goed afkoel. Die uitlig van die koekies sal dan sommer makliker gaan.

Bron: Annelien Pienaar, BKT kook klasse 2015, epos: boerekostwist@gmail.com
Hoeveelheid: 40 blokkies

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-04-10T18:33:29+00:00 0 Comments

Leave A Comment