Yoghurt Kaaskoek / Yoghurt Cheesecake

Yoghurt Kaaskoek / Yoghurt Cheesecake

Menige bakster of aspirant kok se nagmerrie is die G-woord: Gelatien! Wat as die dis nie stol nie? Wat as daar stukkies gelatien in die koek is? …wat as! Ek gaan die bang uit die “wat as” neem en vir jou leer waarom dit nie sal gebeur nie.

Kom ons kyk eers na wat gelatien is. Dit is die kollageen gedeelte van diere wat gekook word, gedroog word vir die doel van stabilisering van voedsel produkte.  Die produk word in korrel, poeier en vel formaat verkoop.

Hoe werk gelatien?
Gelatien moet eers hidreer word en daar is twee maniere wat ek gebruik. Nommer een: deur die gelatien oor water te sprinkel. Die gelatien absorbeer water en een rubberagtige massa vorm. Hierdie massa moet dan gesmelt word, om in die finale produk soos in ons geval: kaaskoek gebruik te word. Moet nooit die gehidreerde massa kook nie…smelt dit deur die bakkie waarin die mengsel is in warm water te plaas. Roer gereeld totdat dit soos stroop lyk. Ek gebruik glad nie die mikrogolf vir smelt nie, alhoewel ek dit raak lees op die internet. Ek het te veel kere dit probeer en dan kook die massa en die koek is vol rubberagtige stukkies. Nommer twee wat ek self persoonlik meeste male doen: Voeg eers die kook water in ‘n glas of vlekvrye staal bakkie. Sprinkel die gelatien oor en roer totdat die mengsel goed opgelos het. Die mengsel sal soos stroop lyk.

Onthou ook dat hoe suurder die bestanddele is soos bv pynappel en suurlemoen, hoe meer gelatien het jy nodig sodat die tert goed kan stol. Suur verswak die gelatienagtige struktuur en daarom moet jy versigtig wees as jy aan die resep verander deur vars bestanddele by te voeg.

Resep
500 g Roomkaas
500 g Gegeurde yoghurt van keuse
40 ml Suurlemoensap
400 g Witsuiker
3 Eiers, geskei, witte styf geklop met ‘n knippie kremetart
60 ml Gelatien poeier
250 ml Kook water
500 ml Room, styf geklits

Metode:
1. Meng die roomkaas, yoghurt, suurlemoensap en suiker saam tot die mengsel mooi egalig is.

2. Klits die eierwitte styf.

3. Sprinkel die gelatien poeier in die kookwater en roer totdat dit goed opgelos het. As dit nie oplos nie, plaas die bakkie weer in kookwater totdat die mengsel soos stroop lyk en geen spikkels wys nie. Laat die mengsel tot kamertemperatuur afkoel.

4. Klits die gelatien by die roomkaas mengsel in. Vou dan die stywe eierwitte en geklopte room in by die mengsel in. Gebruik ‘n ballon klitser om die takie maklik en vinnig af te rond.

5. Skep vulsel in vorm van ongeveer 20-25 cm deursnit en 10 cm diep. Laat oornag stol of minimum 4 ure voordat ontvorm. Versier met vars bessies.

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-04-02T17:37:23+00:00 8 Comments

8 Comments

  1. christime Zandberg April 1, 2017 at 6:53 am - Reply

    Sjoe lyk so lekker

  2. Naomi April 1, 2017 at 7:59 am - Reply

    Soetkoekies? Ek verstaan nie. Is dit n April gek poets Anneliien?

    • boerekos April 2, 2017 at 3:41 pm - Reply

      So bly iemand lees darm die posts!

  3. Linda du Toit April 1, 2017 at 11:38 am - Reply

    Alles lyk so lekker maar ai om alleen te wees is swaar want ek kan nie alles alleen opeet nie!!!

  4. Akkedis April 2, 2017 at 2:36 pm - Reply

    Ek het ook die soetkoekies gesien😁, toe wonder ek!

    • boerekos April 2, 2017 at 3:41 pm - Reply

      Toets net of julle wakker is…

  5. Susan van der Merwe April 4, 2017 at 10:10 am - Reply

    Baie dankie Annrlien vir due goeie raad om gelatine te gebruik. Gaan dit beslis so doen.

    • Boerekos April 4, 2017 at 11:24 am - Reply

      Sommer baie bly jy sien kans om met gelatien te werk…een van die wonders van kosmaak is hierdie onderwerp. Groete A

Leave A Comment