Maroela Jellie

Maroela Jellie

Oral hier by ons in die Bosveld lê die Maroela’s gesaai. Die geur van maroela’s is enig in sy soort en moet preserveer word! Ek gebruik dit baie vir kaaskoeke se geursel en ook ‘’n mooi jellie lagie bo-op. Verder ook heerlik saam met Kefir, gewone yoghurt, kombucha tee en vars gebak soos skons en kolwyntjies. Die lys hou nie op…dink aan ‘n heerlike skaapboud of varkboud wat met hierdie sousie bedruip word…goed selfs ek is nou lus!

Om te begin moet jy paar toerusting eers in plek kry. Die kastrol, vergiettes, kaasdoek en geduld.
Week die maroelas in koeksoda water soos volg: 5 liter water met 45 mℓ koeksoda daarin opgelos. Laat die vruggies in die oplossing lê vir ongeveer 1 uur. Dit maak die skil sag en verwyder ook alle onsuiwerhede.

Spoel die vruggies onder lopende water en week nog ‘n verder uur om uit te vars. Spoel goed af.

Sny die maroelas in die helfte deur sodat die pit ontbloot is. Bedek die vrugte met water en kook vir ongeveer ‘n uur.

NB: Haak die vergiettes oor ‘n kastrol en voer met moeselien doek uit. Giet die kokende mengsel in die vergiettes en MOENIE die sap deur forseer nie. Laat die sous vir 12 ure self deursyg. Filistyne…As jy nie geduldig is nie gaan die jellie troebel wees. Dit moet helder en deursigtig soos heuning wees as jy klaar is.

Weeg dan die vog (nie mℓ mate nie asb.)

1 kg (4 k) water
800 g (4 k) witsuiker
1 suurlemoen se sap
100 mℓ tuisgemaakte appel pektien (Sien blog vir resep) (opsioneel as jy nie ferm set wil hê)

Kook die mengsel oor matige hitte en skep skuim af soos jy kook. Na 60 minute toets op ‘n koue piering of die jellie set. Die jellie sal plooie maak as jy dit vir 4 minute los.

Bottel warm in gesteriliseerde flesse en draai op hul koppe om af te koel.

Wenk: Hoe vinniger jy kook hoe ligter die jellie, hoe stadiger hoe donkerder…

Bron: Annelien Pienaar, 2017, www.bosenbergguestfarm.co.za

Hoeveelheid: op 1 kg ongeveer 3 x 375ml botteltjies.

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-04-04T06:50:09+00:00 0 Comments

Leave A Comment