Familie Sjokoladekoek met Baronekaramel

Familie Sjokoladekoek met Baronekaramel

Verleiding op sy beste. Hierdie koek maak jy regtig net met verjaardae…anders rol mens die bult af! My oudste het self hierdie koek aanmekaargeslaan en watter heerlike happie was dit nie. So 10/10 vir jou my Filistyn. Die koek is heerlik klam en die sjokolade gananche is heerlik sag soos die binnekant van ‘n Lindt sjokolade balletjie…sagte lekker truffel.

 

280 g koekmeel, gesif
400 g wit suiker
knippie sout
20 ml bakpoeier
¼ t koeksoda
250 ml sonneblom olie
30 g kakao
250 ml kookwater (kakao aanmaak)
5 ml kremetart
6 groot eiers, geskei
10 ml vanielje geursel

Sif die koekmeel, sout, bakpoeier, koeksoda saam. Meng die kakao met die kookwater totdat dit ‘n gladde pasta vorm.

Klits die eiergele met die suiker totdat dit wit en romerig is vir ongeveer 5 minute. Voeg nou die olie by in ‘n dun straaltjie en hou aan klits soos die olie bygevoeg word. Die mengsel moet weer lig en romerig word.

Meng die kakao mengsel by en klits weer deeglik deur. Meng nou die meel by hierdie mengsel in asook die vanielje geursel.

Klits die eierwitte totdat dit net begin skuim en voeg die kremetart by en klits totdat die mengsel styf is maar nie droog nie. Onthou met alle gebak waar daar eierwitte styf geklits moet word om altyd kremetart by te voeg om die skuim stewig en stabiel te hou.

Vou die eierwitte by die kakao mengsel in. Nou kan jy besluit op kolwyntjies of groot koeke. Bak tye vir koek is 35 – 45 minute en vir kolwyntjies 20 – 25 minute en alles word by 180 ℃ gebak. Laat koek goed afkoel.

Laat die koeke eers in die panne afkoel deur dit onderste bo te laat afkoel op voetjies gemaak van glase ens. voordat dit ontvorm word. Gaan loer asb. op die webtuiste na die les oor Chiffon koek ens.

Stroop
Kook saam 1 k water, ½ k witsuiker vir 8 minute. Voeg 5 mℓ rum of brandewyn geursel by die stroop en roer goed. Haal van hitte af en giet oor koek. Sny koek in lae en sprinkel elke laag met die stroop. Ek sit die stoop in ‘n spuit bottel en spuit dan die lae eweredig.

Smeer die koeklae met karamel kondensmelk, soveel as jy wil (Filistyn se woorde). Plaas die koek vir ‘n uur in die yskas.

Sjokolade laag
2 x  150 g Cadbury Melk sjokolade
1 x Bar One
125 mℓ room
50 mℓ sonneblom olie

Sny al die sjokolade in baie klein stukkies op en smelt met dubbelkoker. Verhit die room in ‘n aparte kastrol net tot onder kookpunt. Voeg die room by die sjokolade en roer baie goed. Moenie skrik nie…dit gaan eers ‘n massa vorm en weer glad word. Voeg dan die olie by en roer weer tot dit een sagte blink massa word. Smeer dadelik oor die koue koek.

Bron: Annelien Pienaar, gemaak deur Peet Pienaar, 2017, www.bosenbergguestfarm.co.za

Hoeveelheid: 1 dubbellaag koek wat in 4 lae gesny kan word. Pan grootte 25 cm x 2

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-04-08T08:35:05+00:00 0 Comments

Leave A Comment