Stollen

Stollen

Mense skrik vir die resep weens die feit dat dit oor twee dae gemaak word. Maar wees gerus dat die proses maklik is en inpas by jou eie skedule.  Ek verkies om hierdie deeg met my staanmenger te maak aangesien daar baie botter na die tyd in die deeg geknie moet word. Daarom dat hierdie tipe deeg ook as ‘n “enriched” of verrykte deeg bekend staan. Maak seker jy gebruik deurgaans die deeg haak van die menger vir die taak.

Dag 1
Spons
345 g Koekmeel
230 g Melk (ja ek weeg, jy lees nie verkeerd!)
Mes puntjie kits gis

Plaas al die bestanddele in ’n mengbak en meng om ’n eenvormige deeg te vorm. Bedek die bak laat by kamertemperatuur rys.

Vrugte
125 g water
100 g witsuike
450 g Vrugtekoek mengsel (kies sonder sitrus skil) *
200 g Cranberries
150 g Gedroogde, gekapte appelkose of appel
100 g Rum

* gewig kan opgemaak word uit allerlei vrugte soos rooi kersies, groen kersies, vye, makataan, gekristaliseerde gemmerstukke…solank die gewig net uitwerk op 450 g.

Kook die water en suiker saam vir 5 minute. Voeg die vrugte en rum by en roer goed deur. Laat oornag by kamertemperatuur staan.

Dag 2
500 g koekmeel
Al die spons van die vorige dag
115 g melk20 mℓ vanieljegeursel
3 ekstra groot eiers
15 mℓ suurlemoenskil gerasper
120 g witsuiker
30 mℓ kitsgis
10 mℓ fyn kaneel
230 g botter
100 g pekans of amandels, gekap

Dreineer die vog van die gemarineerde vrugtemengsel. Die sap kan gebruik word om te drink of ander vrugte in te posjeer…so moenie weggooi nie.

Meng die spons, koekmeel, melk, vanielje, drie eiers, suurlemoenskil, witsuiker, kitsgis, sout en kaneel saam. Knie die deeg totdat dit glad is vir 10 minute per hand of met die menger vir  5 minute.

Neem die botter en sny dit in klein vuurhoutjiedosie stukkies. Terwyl die menger loop voeg die botter letterlik stukkie vir stukkie by die deeg, maak seker al die botter is ingewerk voordat jy nog bysit. Hierdie proses verryk die deeg en verleen die sagte tekstuur aan die eindproduk.

Voeg nou in klein hoeveelhede terwyl die menger loop die vrugte en neute by. Stop en skraap die kante van die bak af en bly meng totdat die mengsel mooi bymekaarbly. Skraap die deeg uit in ‘n gesmeerde bak en bedek. Laat vir 1 ½ h tot 2 ure rus om te verdubbel in volume.

Amandel vulsel
350 g marzipan
1 medium eierwit

Terwyl die deeg rus maak die amandelvulsel aan. Breek die marzipan in stukkies op in ‘n mengbak en voeg die eierwit by. Klits die mengsel totdat dit bymekaarkom en in ’n wors kan vorm. Indien die mengsel loperig is voeg net meer gerasperde marzipan by totdat ’n stewige wors vorm. Rol die mengsel in ‘’n wors van ongeveer 30 cm en bedek met kleefplastiek en plaas eenkant…nie yskas nie asb.

Verdeel die deeg en maak ronde sirkels. Laat weer 20 min rus. Trek die deeg sodat dit ’n effense rugbybal vorm. Neem ‘n rolstok en druk met die rolstok in die middel oor die langste gedeelte ‘n rif. Jy gaan in hierdie rif die amandel rol laat rus.  Deel die amandel mengsel in twee en rol ‘n worsie lank genoeg om nie uit te steek by die punte van die deeg vorm nie. Vou die deeg toe en laat dit op ‘n gesmeerde bakplaat rys vir 45 minute of tot dubbel die volume.

Bak by 160 ℃ vir 25-30 minute. Sodra die stolen uit die oond kom, sprinkel met versiersuiker of strooisuiker. Laat goed afkoel.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za

Hoeveelheid: 2 – 4 stollens

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-04-08T19:53:50+00:00 0 Comments

Leave A Comment