Goue stroop

Goue stroop

In meeste van ons koekie gebak word daar van gouestroop gebruik gemaak en dan kos dit nogal ’n arm en been. Ek maak vir ’n geruime tyd myne self en die resultate is dieselfde.

MOET LEES voor jy begin asb….

Die stroop se goue kleur word net verkry deur eers ‘n deel van die suiker te karamelliseer en daarna verder te kook. Wanneer die karamel suiker gemaak word MOENIE roer nie…draai die kastrol in die rondte…

Karamel

200 g (1 k) witsuiker
60 g (4 e) water (ja, jy het reg gelees dat dit gram is!)

Stroop

1 kg (5 k) witsuiker
600 g (2 ¼ k) kook water
1 t (5 mℓ ) sitroensuur of 60 mℓ (4 e) suurlemoensap
½ t kremetart
1/4 t sout

Karamel: Plaas die witsuiker in ’n kastrol en giet die water rondom die hopie. Smelt die suiker oor medium hitte SONDER om te roer. Tel die kastrol op en kantel die kastrol sodat die vloeistof in die rondte rol. Hou so aan van tyd tot tyd totdat die suiker begin verkleur en stroperig word. Wees wel versigtig om die suiker nie te brand nie, want dit kan ‘n bitter smaak tot gevolg hê. Daar kan nog stukkies ongesmelte suiker wees…maar die meeste moet karamel wees.

Hou kastrol op die plaat en voeg die kookwater in die stroop resep by. Wees versigtig want jy kan brand met die byvoeging van die kokende water. Die stroop sal opborrel.

Roer die massa en voeg dan die res van die bestanddele by. Roer die mengsel totdat die suiker goed opgelos het en was die kante van die kastrol met kwassie en water af om kristalvorming tee te werk.

Kook die mengsel oor medium tot lae hitte totdat dit lekker dik is vir ongeveer 45-50 minute. Bottel warm.

Indien die stroop dalk vir jou te dun is: kook langer.

Indien dit te dik is: voeg bietjie water by terwyl die stoop weer verdik word.

Indien die stroop kristalle word: dan kan jy weer smelt en bietjie kremetart byvoeg.

Hoeveelheid: 750 ml

Print Friendly, PDF & Email
2017-03-29T21:09:00+00:00 0 Comments

Leave A Comment