Appelkrummeltert

Appelkrummeltert

Appeltert is nie appeltert as dit nie met vars Granny Smith appels gemaak word nie. Die appels week effens in die gegeurde water om die speserye op te trek. Die appels is wel suur as jy dit vars eet, maar die bruinsuiker en heuning maak dit soet met die spesefieke appel geur wat deur kom. Die krummel van die eindproduk moet uit gepof wees en bros. Bedien louwarm of koud met room.

Vulsel

3 groot Granny Smith appels, geskil en klokhuis verwyder
50 g (¼ k) witsuiker
50 g (¼ k) sagte bruinsuiker
30 mℓ (1 e) heuning

75 g (½ k) sultana’s
5 mℓ (1 t) fyn kaneel of 1 kaneelstokkie
Knippie naeltjies
Knippie gemmer
30 mℓ (2 e) suurlemoensap
125 mℓ (½ k) water
5 mℓ (1 t) rum geursel

Kors

115 g (½ k) botter of bak margarien
105 g (½ k) strooisuiker
1 eier
280 g (2 k) koekmeel, gesif
15 mℓ (1 e) bakpoeier
Knippie sout

Vulsel: Plaas al die bestanddele vir die vulsel in die kastrol behalwe rum geursel. Kook die bestanddele vir 10 minute, verwyder van hitte en voeg rumgeursel by en laat goed afkoel. Ek verkies om die vrugte mengsel die dag voor die tyd te doen en dan in ‘’n glasbak te marineer in die yskas tot die volgende dag. Die rosyne word plomp en rond, vol geur. Anders indien u haastig is, wag totdat die mengsel goed afgekoel het en gaan voort met die kors.

Kors: Verroom margarien en strooisuiker saam tot lig en donsig. Voeg die eier by en klop weer tot goed gemeng.

Sif die droë bestanddele saam en vou by die eiermengsel in. Knie die deeg liggies. Verdeel deeg en druk een helfte van die deeg in die tertbak in en verkoel die tertbak en die res van die deeg, bedek beide. Rus vir 30 minute. Voorverhit oond na 160 ℃.

Haal alle bestanddele uit yskas en vul die tert met die gedreineerde appels. Rasper die res van die deeg oor die appels en bak vir 60 minute totdat die kors bros en mooi ligbruin is.

Laat effens afkoel en versier met gesifte versiersuiker oor die bokant van die tert en vars room.

Hoeveelheid: 1x 25 cm appeltert

Print Friendly, PDF & Email
2017-03-29T20:31:59+00:00 0 Comments

Leave A Comment