Gemmerkoekies

Gemmerkoekies

Waar kan ek begin om hierdie koekie se lof te besing. Ek het nog nooit ‘n probleem met hierdie resep gehad nie. Dit is regtig klein handjies wat dit oorhanteer goed gesind. Jy kan dit uitrol en vormpies druk of soos die tradisionele manier dit bolletjies rol. Die resep is uiters veelsydig in die sin dat dit bros of taai kan uitkom. Verkort die baktyd en die tekstuur binne is taai en kouering, verleng die baktyd met die maksimum en dit is bros en krakerig. Die kenmerk van hierdie koekie is die krakies wat dit bo-op maak, dit is ook nie plat en loperig nie, maar maak ‘n mooi koepeltjie, dit het suiker kristalletjies wat nog sigbaar is op die bokant wat soms vir my soos sterretjies skitter. Wanneer ek hierdie koekies bak staan ek soos ‘n stout kind die lou warm koekies met ‘n glas melk en eet! Ek druk dit diep in die melk in en vat heel ongeskik een groot hap met kieste wat bol en kake wat pyn van die kou. Wat is jou gunsteling koekie? Bros of Taai? Waarmee geniet jy jou koekie: Tee, koffie, melk of skoon net droog?
Raad oor die afmeet van stroop: Indien jy stroop wil afmeet spoel die koppie eers met water uit of spuit met kleefwerende sproei sodat die stroop maklik kan uitglip as dit uit gegooi word in die mengsel.

200 g rama of Stork bake – kamertemperatuur (botter is nog die beste)
350 g witsuiker

1 groot eier, geklits
200 ml goue stroop
600 g koekmeel
15 ml bakpoeier
10 ml koeksoda
10 – 30 ml fyn gemmer (10 ml is genoeg sonder dat dit jou brand)
5 – 15 ml kaneel (5 ml is genoeg om ‘n subtiele spesery smaak te kry)
knippie naeltjies (cloves)
knippie sout
ekstra wit suiker vir gemmer balletjies

Room die botter en suiker saam totdat die mengsel lig en donsig is, dit moet fluffy wees.

Voeg eier by en klits weer goed deur, daarna die stroop.

Sif die koekmeel, bakpoeier, koeksoda, gemmer, kaneel, naeltjies en sout saam. Meng dit met die geroomde eiers en knie die deeg liggies.

Meet deeg in 15 ml balletjies af en rol balletjies perfek rond. Druk elke balletjie se een helte in witsuiker. Plaas liefs die suiker in ‘n diep bakkie soos ‘n poeding bakkie sodat die balletjie tot in die helfte suiker kry. Plaas dan die balletjies met die suiker kant na bo, op ‘n bakplaat en baie liggies, druk die bo-kant net effens plant met wysvinger. Baie effens, jy moet nie ‘n gat of duik in druk nie, net saggies raak. Die koekie is nie ‘n loperige koekie as dit bak nie, dus moet jy dit sagkens effens afplat.

Bak die koekies by 180 ˚ C vir 10 – 15 minute totdat die koekies vir jou die regte kraak het.

HOEVEELHEID: 50 x 15 ml balletjies of 100 7 ml balletjies

Print Friendly, PDF & Email
2017-03-29T20:37:55+00:00 2 Comments

2 Comments

  1. Zelda Dry April 28, 2017 at 2:27 am - Reply

    Ek het hierdie koekies gebak en dis heerlik…dit kom uit net soos die foto lyk,dis bros en krakerig.Beslis n wen resep.Dankie.

    • Annelien April 28, 2017 at 7:15 am - Reply

      Dit is altyd wonderlik om sulke goeie teruvoering van die baksters en bakkers te kry. Geniet hierdie puik resep. Groete Annelien Pienaar

Leave A Comment