WheatBix Beskuit

WheatBix Beskuit

Elke huis het sy kruis, myne is beskuit. Ek bly nie voor met beskuit nie. Die kinders sal eerder ‘n stukkie beskuit eet as brood! Hierdie is ook ‘n wenresep in my huis. Hierdie resep is baie ekonomies. Indien daar nie neute of rosyne beskikbaar is nie kan dit uitgelaat word sonder dat die tekstuur van die beskuit benadeel word. Verder kan bestanddele soos neute en rosyne met enige ander bestanddeel vervang word soos gedroogde vrugte stukke en vele meer. Loer op die blog onder: Algemene Omskakelingstabel as jy vervangings wil maak…

Ek gebruik as ’n reël nie meer Bruismeel nie, omdat die winkels in ons area se mense nie bak, dan kry ek altyd ‘’n pak wat se oemf uit is. Dus vervang ek bruismeel soos volg: 1kg koekmeel + 4 t bakpoeier + 1 t koeksoda = sif drie keer goed saam en daar gaan jy!

Wenk: eiers kan uitgelaat word. Daar is genoeg proteine in die karringmelk om bestanddele te bind.

400 g (2 k) Treacle sugar
500 g (2 k) hoogvol Rama of Storke bake
500 mℓ (2 k) Amasi
3 groot eiers geklits (opsioneel)
1 kg (7 k) koekmeel
20 mℓ (4 t) bakpoeier
5 mℓ (1 t) koeksoda
5 mℓ (1 t) sout
5 mℓ (1 t) kaneel
300 g Weetbix stafies, grof gebreek
50 g semels
100 g (1 k) pekans (opsioneel)
150 g (1 k) rosyntjies (opsioneel)

Smelt die botter en suiker saam in mikrogolf oond. Moenie kook nie, net smelt. Laat afkoel na kamertemperatuur. Voeg dan geklitste eiers en Amasi by.

Sif koekmeel, bakpoeier, koeksoda, sout en kaneel saam, saam drie keer. Voeg die res van die bestanddele by en meng goed deur.

Voeg die gesmelte botter mengsel by die droë bestanddele en werk versigtig om nie die mengsel te oorwerk nie. Dit veroorsaak dat jy ‘’n harde beskuit kry. So, meng net totdat die droë dele nat is.

Druk in 35 cm x 45 cm pan en sny vooraf in vingers. Bak vir 40 min by 180 ℃. Laat goed afkoel voordat die vingers deurgesny word. Droog by 110 ℃ vir 3-5 ure.

Laat beskuit goed afkoel voordat dit in lugdigte houers gestoor word.

Hoeveelheid: 70 vingers ongeveer.

Print Friendly, PDF & Email
2017-03-29T20:48:55+00:00 0 Comments

Leave A Comment