Koekstruif / Triffle

Koekstruif / Triffle

 

In my kinderjare het ek nie baie goeie herinneringe van Koekstruif nie…die mense wat dit gemaak het, het die bestanddele saamgegooi en deurmekaar geroer en dan het dit glad nie aptytwekkend gelyk nie. Ek het die dag toe ek trou maar moes leer om die gedoente te maak en wel, ook geleer dat dit nie ’n “moer en roer” storie is nie. Nee, jy kan die mooiste lagies met bestanddele van jou keuse insit.

Hierdie spesifieke foto was een waar ek die gesin betrek het. Ek het elkeen gevra wat hul gunsteling happie is wat hul in die Koekstruif wil hê. Sussie skree kliphard nog voordat die twee Filistyne kan praat: “Jellie, mam’s, jellie”. Ouboet skud net die kop en vra vir ouma se Koejawelskuim en rooikop vra vir dik vla. Pappa soek natuurlik rolkoek.

Ek moet erken ek was lui. Na kerk het ek ’n rolkoek en reeds aangemaakte vla gekoop. Met my pakkie onder die arm is ek by die winkel uit en reguit huis toe om te begin. Die kinders moes gaan aarbeie pluk en natuurlik het daar net ’n handjie vol hul weg na die kombuis gevind. Want sussie se rooibek verklap die pad wat die res gevolg het…Ek het oor die twee ouer Filistyne se skouers geloer en bietjie leiding gegee…dus, hierdie foto is ‘n uitbeelding van hulle eie kreatiwiteit. Ons het lekker gespeel!

1 gekoopte rolkoek
1 pakkie rooi glans kersies
Vars aarbeie soveel as wat jy wil
1 blikkie geblikte perskes
1 k pekans

Jellie

1 pakkie rooi jellie
240 mℓ kook water
240 mℓ yswater

Voeg kookwater by jellie en roer goed totdat al die jellie opgelos het. Voeg die koue water by en roer goed deur. Plaas in yskas om te set.

Gestolde vla

500 mℓ Ultramel
15 mℓ gelatien poeier
50 mℓ kookwater

Los die gelatien in die kookwater op en roer totdat alles gesmelt het. Voeg by die vla en laat eenkant staan.

Koejawel skuim

1 pakkie rooi jellie
1 blikkie koejawels
1 blikkie ingedampte melk, verkoel
250 mℓ kookwater

Los die jellie in die kookwater op. Hou aan roer totdat dit gesmelt is. Plaas eenkant om af te koel, nie yskas nie.

Plaas die blikkie ingedampte melk in yskas oornag, want dit sal nie styf klits as dit nie koud is nie. Klop dan die ingedampte melk totdat dit styf is. Voeg die fyn gedrukte koejawels by en roer goed deur. Voeg nou die jellie by.

Laat eenkant staan en begin om die ander bestanddele voor te berei. Sny die rolkoek in 1 cm skywe en pak dit in mooi glase of  ’n glasbak tot ongeveer ‘’n kwart van die houer met die skywe. Gooi nou ‘’n laag van die koejawelskuim. Plaas die gevulde houer in yskas en verkoel vir 15 minute.

Haal houer uit yskas en pak ’n laag rolkoek bo-op die koejawel skuim en pak vrugte teen die kante en vul op met vlamengsel…hou so aan totdat al die bestanddele opgebruik is. Rond af met gebreekte jellie laag en neute.

Bron: Die Pienaar kinders! 2016

Hoeveelheid: 6 – 8 persone

Print Friendly, PDF & Email
2017-03-26T14:00:02+00:00 2 Comments

2 Comments

  1. Lien Pieterse August 4, 2017 at 7:16 am - Reply

    Wat is koejawels klim?

    • Annelien August 5, 2017 at 5:58 pm - Reply

      In my boek op p. 183 is die resep. Dit is basies koejawels met suiwel en jellie gestol…heerlik vir warm somers dae. Vinnig, goedkoop en maklik om te maak en lewer n groot hoeveelheid en hou ook lank in die yskas. Groete Annelien

Leave A Comment