Annelien se Vrugtekoek-twist!

Annelien se Vrugtekoek-twist!

Hierdie koek is ongelooflik klam. Die bestanddele het ek so uitgewerk dat dit ’n ekonomiese koek is om te bak. Jy kan wel luuks gaan met die koek soos om ’n kwart van die koekvrugte met glansvrugte soos makataan stukke of vye te vervang. Verder kan die resep sonder alkohol gemaak word en die alkohol kan met vrugte sappe soos appelsap en lemoensap vervang word. Ek sit bietjie kakao by die mengsel om die smake van die speserye op te tel. Dit is regtig subtiele geure wat so perfek trou met die res van die bestanddele, wat hierdie dus ’n buiten gewone vrugtekoek maak wat smake aan betref. Alles in fyn balans gedoen.

Voorbereiding van vrugte
1 kg gemengde koekvrugte
400 g (2 k) sagte bruinsuiker (Treacle sugar)
300 g (2 k) glanskersies – gesny
200 g (2 k) pekans
150 g (1 k) gekapte dadels
250 g botter – Rama of Stork bake is ook geskik
750 mℓ (3 k) water
10 mℓ (2 t) suurlemoensap
125 mℓ (½ k) sjerrie
10 mℓ (2 t) koeksoda

Kook gemengde vrugte, bruinsuiker, kersies, dadels, botter, water en suurlemoensap saam. Kook vir 20 minute.

Verwyder van hitte en voeg koeksoda, sjerrie en pekans by warm vrugtemengsel en meng goed. Laat die mengsel tot koud afkoel.

Koekbeslag
560 g (4 k) Eureka mills se koekmeel
45 mℓ (3 e) kakao
15 mℓ (1 e ) bakpoeier
5 mℓ (1 t) fyn gemmer
5 mℓ (1 t) fyn kaneel
4 eiers – goed geklits
½ t sout
125 mℓ (½ k) Sjerrie of Brandewyn

Berei panne van ongeveer 23 cm deursnit voor deur dit met ‘n dubbel laag waspapier uit te voer. Plaas eenkant. Voorverhit oond na 160 ℃.

Sif die koekmeel, kakao, bakpoeier, sout, gemmer en kaneel saam, meng nou die meelmengsel en geklitste eiers om die beurt in die vrugtemengsel in.

Skep in panne. 850 g koekvulsel per 15 cm pan is perfek. Jy kan met die vorms van die panne speel.

Draai die temperatuur af na 150C en bak die koek vir 2-3 ure. Sprinkel alkohol oor die warm koek en laat dan heeltemal afkoel voordat uit die panne gehaal word.

Bedek koek met waspapier laag, draai toe in kleefplastiek en laaste met foelie. Stoor by kamertemperatuur en maak ’n merk sodat jy weet wat die bokant en die onderkant van die koek is. Sodra jy die koek wil “dokter” na ’n week moet die onderkant na bo gedraai word, sprinkel met alkohol, onthou dat hierdie nou so na bo moet wys en so gestoor word sodat die alkohol na onder kan sypel. Doen so vir 4 keer. Na 4 – 5 weke is die koek gereed. Nota: ongeveer 100ml brandewyn en sjerrie gemeng vir elke dokter sessie.

Mikrogolf kan ook ingespan word vir die bak van die koek: 18 minute op hoog, bedek bak met kleefplastiek. Onthou om nie meer as 850 g beslag per baksel te bak nie. Laat afkoel soder om oop te maak na lou, sprinkel dan met alkohol of sap.

Glanslaag met koekvrugte
1 e pektien poeier (bakkerswinkels, Dischem hou dit aan)
½ k witsuiker
½ k appelkooskonfyt
4 e suurlemoensap
½ k water
2 k koek vrugte van keuse

Meng die pektien eers baie goed deur met die suiker. Plaas in kastrol en voeg al die bestanddele by. Roer die mengsel oor matige hitte totdat die suiker kristalle opgelos het. Kook vir 5 minute en skep dadelik op koeke en laat afkoel.

Wenk:
Ek verkies om die koeke eers in die panne te hou sodat die vrugte nie afval nie. Laat so staan totdat geset. Om die koeke maklik uit die panne te kry: plaas lang repe dubbel gevoude foelie, wat langer gesny is as die pan, sodat dit uitsteek soos handvatsels, om die koek uit die panne te lig. So beskadig jy nie die koek nie. Hierdie word gedoen nadat die koekgebak is, een maal uitgekeer is en dan weer met die foelie teruggesit is.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, Boerekos Twist kook klasse: boerekostwist@gmail.com

Hoeveelheid: 4 x 15 cm koeke van 750 g elk of 2 x 1.5 kg groot koeke van 23 cm.
Print Friendly, PDF & Email
2017-10-31T05:23:59+00:00 0 Comments

Leave A Comment