Vis en Chips Twist

Vis en Chips Twist

Onlangs staan ek by ‘n kettingwinkel groep se vis afdeling en die kwyl loop behoorlik vir ‘n stukkie vis. Ek kyk na die prys en skielik is ek nie meer so lus, want dit is duur. Ek loop ’n draai en staan voor die vleis rak om iets vir aandete te kry. Ek begin appels met appels te vergelyk en kom tot die gevolgtrekking dat die visfilette wat ek so pas oorgestaan en droom het, wel tog goedkoper uitwerk as die vleis. Dat ek vir X bedrag nog steeds die gesin se aandete met dieselfde begroting kan kook en dat daar ekstra sal wees.

Vreeslik in my noppies koop ek die vis en kom tuis. Pluk vars suurlemoene, suurlemoenblare, dill en begin met die voorbereidings. Ek het in die yskas baba aartappeltjies in sy jassie van gisteraand se ete en haal dit uit om as stysel bykos te bedien. Wel, die slaai was ’n kwessie van gooi in wat ook al gesond in die yskas is. My gesin het soos konings op ’n klein begroting geëet.

 

 

Resep

5 Stokvis filette, skelvis, tongvis en vele ander kan gebruik word
150 g botter
100 mℓ vars suurlemoensap
5 e dill, tippie gedeelte gekap of 5 ml gedroog
45 mℓ (3 e) fyn knoffel
500 g gaar baba aartappel
60 mℓ (4 e) olyfolie
60 mℓ (4 e) Parmasaan gerasper
Sout en peper
2 vars suurlemoene in wiggies gesny

Metode

Voorverhit oond teen 120 ℃ en plaas opdien borde in die oond om warm te word.

Verhit botter en skep die skuim af. Voeg die suurlemoensap, dill en knoffel in die warm botter en verhit. Plaas filette met vel kant na onder op binne-in die kokende botter mengsel. Braai vir 4 minute aan die eenkant en draai dan. Plaas op absorbeer papier en skep in warm borde.

Terwyl die vis gaar word verhit nog ‘n pan met olyfolie en braai die aartappeltjies met sout en peper na smaak tot bros en goed warm. Sprinkel die aartappeltjies met Parmasaan. Sodra die vis gaar is, skep die aartappels in die vis se pan en meng om die sous oor die aartappeltjies te kry.

Bedien warm met suurlemoen wiggies en mengsel slaai van keuse. Sous wat ek aanbeveel is die Tartare sous op die blog.

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-03-26T12:53:00+00:00 0 Comments

Leave A Comment