Herderspastei

Herderspastei

As jy moeg word vir die lewe en net nie lus is vir kos maak dan is hierdie wandelpad om te volg. Ek kroek baie deur aartappels in groot maat te koop, blansjeer en vries. Gebruik dan soos nodig. Onlangs weer die waarde van moeder se voorsienigheid besef toe ek die aartappels uit die vrieskas haal en vinnig die pastei aanmekaarsit. Ek dink ook my Ma het alles geweet en wens ek kon haar onuitputbare kennis van kos nog ’n keer beleef…

Kapokaartappels
6 groot aartappels, gekook, ontvel
2.5 mℓ (½ t) neutmuskaat
100 g botter of margarien
65 mℓ (¼ k) melk
2.5 mℓ (½ t) sout

Plaas al die bestanddele in voedselverwerker en puree. Indien jy nie ’n voedselverwerker het nie, kan die aartappel deur ’n sif gevryf word om fyn te kry sonder enige klonte. Hou eenkant terwyl die maalvleis berei word.

Vleisvulsel
500 g (2 k) maalvleis
60 mℓ (4 e) olyfolie of botter
1 groot ui, fyngekap
3 wortels, gerasper
1 seldery stingel, gekap
5 mℓ (1 t) kerriepoeier
5 mℓ (1 t) borrie (turmeric)
Vars gemaalde swartpeper na smaak
Sout na smaak
½ k perske blatjang
150 g (1 k) gerasperde cheddar kaas

Voorverhit oond na 180 ℃ en smeer ’n pastei bak.

Braai ui, wortel en seldery in olyfolie tot glansend. Voeg die kerrie en borrie by en braai vir ’n minuut. Voeg maalvleis by en roer om klonte uitmekaar te breek tot gaar.

Voeg dan die sout en peper asook perske blatjang by. Verwyder van hitte.

Smeer ’n lagie kapokaartappels onder in die bodem van die bak. Skep al die maalvleis bo-op en maak toe met nog kapokaartappels.

Rond af met cheddar en bak vir 30 minute by 180 ℃.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, Kook klasse: boerekostwist@gmail.com

Porsies: 6.

Print Friendly, PDF & Email
2017-04-12T06:39:25+00:00 2 Comments

2 Comments

  1. Cecile du Preez June 22, 2017 at 3:37 pm - Reply

    vertel bietjie hoe jy die aartappels blansjeer vir vries en in watter formaat – skywe, klaar fyn gedruk of hoe?

    • Annelien June 22, 2017 at 4:08 pm - Reply

      Hallo Cecile, lekker om van jou te hoor. More oggend kuier ek op Pretoria FM om 08h30-09h00 en praat juis oor hierdie onderwerp. Verder sal ek more oggend ook al die skakels op die FB pages sit waaroor ek in die praatjie gepraat het, rakende aartappels. Groete en hoop jy kan saam luister. Annelien

Leave A Comment