Churro’s

Churro’s

Ek het die eerste keer Churros in Kanada geproe met ‘n koppie Cafe Grande! Dit is een groot sopkommetjie gevul met melk koffie en dan met hierdie happie op die kant. Dit was ongelooflik. Die geskiedenis kan die saak nou nie mooi uitpluis nie, want die Spanjaarde reken dit is eie aan hulle, die Portugese en Chinese sê dit is hulle gereg. Maar as ek nou my stuiwer in die armbeurs kan gooi, dan dink ek dit is die Chinese sin! Die Portugese was mos seevaarders en ek vermoed met hul reise, dat hul op hierdie eenvoudige maar smaaklike happie afgekom het en dit hul eie gemaak het….maar ja, die geheim is graf toe!

Wat is churros? Dit is basies Choux deeg wat diep vet gebraai word soos in die geval van Pomme Dauphines (aartappel wat in die choux deeg ingemeng word). Sien resep op blog daarvoor. Daarna word die bros vingers met kaneelsuiker gesprinkel en met ’n sjokolade drankie bedien. Deesdae is die neiging met sjokolade sous koppies. Heerlik vir kinder partytjies, skemerkelkies, vingerhappies.

150 g (1 k plus 1 e) koekmeel – gesif
15 mℓ (1 e) witsuiker
250 ml (1 k) water
½ t sout
60 g (4 e) botter
1 eier
200 g witsuiker
15 mℓ (1 e) kaneel

Kook die water met botter en sout saam. Verwyder van hitte en roer die meel en suiker by. Die meel sal van die kante van die kastrol lostrek. Bedek en laat afkoel.

Voorverhit olie asook oond na 120 C. Plaas stukkie brood in warm olie om te toets of dit warm genoeg is. As die broodjie dadelik opkom is die olie gereed.

Klits die eier by die deeg en plaas in versierbuis met groot ster punt. Spuit lang werpige vorms direk in olie en knip met skêr af. Druk die skêr se punt gereeld in olie. Braai die churros vinnig bruin. Laat afdrup. Hou warm in oond.

Sodra al die churros gemaak is: meng die suiker en kaneel saam. Sprinkel oor die churros en bedien met warm sjokolade drankie in die winter maande of sommer net vir die lekker met sjokolade of karamel sous. Soms drup ek heuning of koeksisterstroop oor…die lys hou nie op nie!

Bron: Annelien Pienaar, Kookklasse, 2015

Hoeveelheid: 30-50 vingers afhangend van die lengte.

Print Friendly, PDF & Email
2017-05-09T09:22:31+00:00 0 Comments

Leave A Comment