Tradisionele Mosbeskuit

Tradisionele Mosbeskuit

Na baie gepor het ek besluit om julle te help met hierdie reseppie van my ouma. Onthou hierdie is die egte manier en dus ook die langpad manier vir Mosbolletjies bak. Ek gebruik hierdie resep in my gastehuis en bedien die nat Mosbolletjies vir die gaste met hul oggend tee en koffie. Dit bly keer op keer ‘n wenner!

SOETMOS

400 g Rosyne met pitte (ek hou van my sultana’s)

700 ml Lou warm water

250 ml Koekmeel

5 ml Wit suiker

Metode:

  1. Kap die rosyne baie fyn, gebruik verkieslik ‘n voedselverwerker.
  1. Voeg lou warm water by en laat vir 4 dae op warm plek sonder ‘n trek staan.  Geen direkte sonlig en hou bedek. Ek gebruik ‘n koelhouer met botteltjie warm water in en ruil gereeld sodat die temperatuur konstant kan bly.
  1. Sodra die rosyne begin dryf is die mengsel gereed.
  1. Dreineer die mengsel deur sif en gooi die rosyne weg. Die vloeistof gedeelte is die suurdeeg. As daar nog stukkies in is suig deur kaasdoek.
  1. Voeg die koekmeel en suiker by en meng tot ‘n slap pasta en laat weer op warmplek sonder trek staan. Los vir halwe dag of totdat die meel mengsel lekker borrelrig en wolkerig is. Dit gaan ‘n soet suur reuk hê.
  1. Voer jou plantjie soos volg: weeg die plantjie wat oor is. Deel die gewig deur vier. Voer met 1 deel water en 1 deel meel. Roer goed deur en sit vir elke 100g totale gewig van ou plantjie so 5ml sagter bruinsuiker vir kos by. So maak jy jou plantjie die heeltyd meer.

Beskuit
250 g Rama of Stork bake
250 ml Melk – lou
1 Blikkie kondensmelk (kan uitgelaat word en meer suiker byvoeg)
2.5k g Koekmeel
20 ml Sout
500 g – 800g Suiker (persoonlik hou ek by 600g)
2 Sakkies kitsgis
500g Plantjie
500g Water – lou (ja weeg die water asb)

Metode:
1. Smelt die margarien, melk en kondensmelk saam en laat afkoel tot louwarm.

  1. Voeg die water, soetmos plantjie by die melkmengsel en roer goed deur. Voeg nou ‘n kwart van die meel en al die gis by die waterige mengsel en laat dit onder ‘n warm kombersie staan totdat dit skuimerig vertoon. Dit sal ongeveer 30-60 minute neem in die somer en dalk langer as jy dit nie warm hou met ‘n kombers in die winter. Jy sal sien dat dit ‘n slap deeg is, maar dit is die spons gedeelte waar al die geure en ook gis aksie ontwikkel sodat die beskuit mooi kan rys. So, dit moet so lyk.
  2. Meng nou die res van die bestanddele by en knie die deeg vir 10 minute tot glad en elasties. Laat dan die deeg tot dubbel die volume rys. Kan enige iets van 60-120 minute neem afhangende wat die kamer temperatuur is asook die seisoen van die jaar. Bedek die deeg met plastiek wat vooraf gesmeer is met olie. Gedurende die hele rys proses, as die deeg nie vinnig genoeg rys nie, maad dit warm toe en gee dit kans, dit sal rys…moenie kommer. Ek het al met suurdeeg wat nie meer goed was tot 6 ure gesukkel…maar beskuit het ons geëet.

    4. Knie die deeg af en vorm dan 50 – 80 g bolletjies. Pak die bolletjies in rytjies in gesmeerde broodpanne. Moenie meer as 3 in ‘n  rytjie sit nie. As die bolletjies te styf teen mekaar ingeprop is, gaan dit sommiges na bo druk nadat dit gebak is, sal die onderkant holtes hê.

    5. Laat die deeg in die panne weer tot dubbel die vulume rys vir ongeveer 30 – 60 minute. Bak dan in 190 ˚ C oond vir 30 – 45 minute afhangende van die grootte van die panne.

    6. Keer dadelik uit en laat afkoel. Breek die bolletjies versigtig los met ‘n vurk wat jy in die voutjies insteek, breek los van mekaar en droog by 100 ˚ C vir 3 – 5 ure.

Variasie:

Anys: Voeg 50ml Anys by meel voor jy knie.

Rosyne: Vou 5 rosyne per bolletjie wat jy opmaak in. Die rosyne gaan uit die deeg val as jy dit in die begin in knie. Daarom word dit na die tyd ingevou met die opmaak slag.

Kaneel rolle: Rol die deeg dun uit, sprinkel met kaneel, rol op en sny in 5cm skywe. Bak soos normaal.

Bron: Annelien Pienaar, 2015, BKT klasse: boerekostwist@gmail.com

Hoeveelheid: 100 stukke beskuit

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-04-02T14:06:32+00:00 0 Comments

Leave A Comment