Bees en Niertjie pastei

Bees en Niertjie pastei

Hierdie pastei het ek deur die jare aangepas en gemaak soos ek daarvan hou. Ons het die vars niertjies dieselfde dag wat ons skaap geslag het verwerk en dan pasteie gemaak wat vrieskas toe moes gaan. Ai, my ma was een flukse vrou! Neutmuskaat het onlosmaaklik deel van die pasteivulsel geword. Dit was in die ou dae baie werk gewees om dit te maak omdat die niertjies deeglik skoon gemaak moes word. Deesdae is mens baie gelukkig om die reeds skoon gemaakte niertjies te koop. Kom lees saam hoe om niertjies skoon te maak, smake te onttrek en dit versigtig gaar te maak dat dit nie soos rubber opeindig nie.

Resep
350g Bees of Skaap niertjies, vark niertjies is baie skerp in smaak, wees versigtig
250ml Karringmelk of gewone yoghurt (onttrek skerp smake en maak sag)
500g Beesvleis repies
50ml Olyfolie
1 Ui, medium, grof gekap
15ml Knoffel, fyn gedruk
30ml Koekmeel
1 Blokkie Beesaftreksel
350ml Water
Sout en peper na smaak
2ml Neutmuskaat
500g Blaardeeg
1 Eier, geklits

Metode:
1. Maak die niertjie baie goed skoon deur dit los van mekaar te sny en die vliesies en aartjies te verwyder. Sny in die lengte deur om ‘n helfte te kry en kyk vir die vetterige deel binne in, dit moet verwyder word. Gebruik ‘n klein skerp punt skêrtjie en knip dit uit. Week daarna die niertjies in karringmelk, net genoeg om die niertjies te bedek. Laat dit vir 1 uur staan. Spoel dan die niertjies deeglik af voordit gebruik word. Onthou ook as jy die niertjies te lank gaar maak gaan dit oormatig taai word en soos rubber wees. Maar moenie nou kommer nie, dit is later se storie.

2. Voeg die olyfolie oor die beesvleis repies en braai repies oor baie warm hitte om die vleis sappe te seel. Doen dit klein hoeveelhede op ‘n keer om nie sappe te laat uitloop nie. Braai dan die uie in dieselfde pan en jy kan ekstra olie bysit indien verkies.

3. Voeg nou die aftrekselblokkie en water by en kook die vleis totdat dit murgsag is. Net voordat die vleis van die hitte verwyder word, meng die koekmeel, neutmuskaat, knoffel met bietjie water en gooi by. Roer om klonte te voorkom totdat stysel verdik het. Geur met sout en peper na smaak.

4. Braai die niertjies in ‘n warm pan met bietjie olie, skroei dit net, dit moenie gaar wees nie. Die niertjies moet reg rondom bruin wees. Meng met die vleis en skep in pasteibak.

5. Rol die blaardeeg uit en druk vas op die pastei, sny patroontjies en verf met eier. Sny gaatjie in die middel vir stoom om te ontsnap.

6. Bak in voorverhitte oond by 190℃ vir 30-40 minute tot goudbruin.

Hoeveelheid: 4 porsies

Print Friendly, PDF & Email
2017-03-29T20:25:23+00:00 0 Comments

Leave A Comment