Piesang en Pynappel brood / koek

Piesang en Pynappel brood / koek

Ek hou van eksperimenteer in die kombuis met allerlei bestanddele sonder om verhoudings ernstig te versteur. So het ek verlede jaar navorsing gedoen oor die Hummingbird koek en die Wortelkoek soos ons dit in vandag se tyd ken, en besef die resepte het maar ook deur sy eie vorm van evolusie gegaan. Die wortelkoek het afgestam van die Hummingbird koek. Nou waarheen gaan ek met die geskrif dink jy? Wel, beide hierdie resepte kry piesang en pynappel in. So het ek met ‘n ou piesangbrood resep gesit wat ek klammer wou kry en het toe besluit om ‘n kruising tussen ‘n piesangbrood en ‘n hummingbird koek te maak.

Wel, groot was die verrassing toe ek dit die eerste keer proe! Die broodjie is heerlik klam en vogtig, gepak met geure wat mekaar komplimenteer. Die broodjie vries ongelooflik goed en hou ook nogal lank in die blik. Jy kan vir variasie bietjie suurlemoenskil (15 ml) of papawersaad (30 ml) by die mengsel insit, 100 g neute. Bak die beslag in die vorm van jou keuse: muffin panne, broodpanne, ringkoek panne…net wat jy wil! Onthou ook dat die koek se kleur kan varieer nav die suiker wat jy gebruik. Ek gebruik wit of bruinsuiker afhangend van wat die behoefte is. Verder kan die koek met of sonder ‘n versiersel bedien word.

Resep
115 g (1/2 k) Botter of Bak margarien by kamertemperatuur
200 g (2 k) Wit suiker of Sagte bruinsuiker lg my eerste keuse
3 Eiers, geklits
115 g Piesang, fyn gedruk
100 g Pynappel, geblik, fyn met sap
5 ml Kaneel
40 g Klapper
280 g Koekmeel
5 ml Bakpoeier
2.5 ml Koeksoda (Bicarbonate of Soda)
1 ml Sout

Metode
1. Verroom die botter en suiker tot lig en donsig vir ongeveer 3 – 5 minute. Voeg dan die eiers een vir een by en klits met elke byvoeging goed deur sodat die mengsel weer romerig word.

2. Roer die piesang, pynappel en klapper by die beslag in.

3. Sif die koekmeel, kaneel, bakpoeier, koeksoda en sout saam. Voeg nou die meelmengsel by die in en skep in ‘n gesmeerde brood pannetjie of kolwyntjie pan as jy so sou verkies!

4. Bak by 180 ℃ vir 65 – 75 minute vir die brood of 35 minute vir die kolwyntjies.

5. Laat die gebak eers in die panne afkoel vir ongeveer 10 minute en keer uit op draadrakkie.

Roomkaas Versiersel 
230 g Roomkaas
½ k Botter
450 g Versiersuiker
1 t Vanielje geursel

Metode
1. Room eers die botter en die roomkaas appart sodat dit romerig en lig word.

2. Voeg die botter en roomkaas saam en klits goed deur.

3. Voeg die versiersuiker by en vanielje geursel.

Bron: Annelien Pienaar, 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

Hoeveelheid: 1 groot broodpan van 23 cm of 12 kolwyntjies.

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-06-25T18:48:46+00:00 0 Comments

Leave A Comment