Angelfood Koek

Angelfood Koek

Met die maak van hierdie koek word die eierwitte eers styf geklits en dan word die suiker by die witte geklop om ‘n sagte meringue te maak. Daarna word die droeë bestanddele liggies ingevou.Die koek is baie lig in kleur, sponsagtig, maar nie so ryk in smaak soos die chiffonkoek met sy botter en eiergeel nie.
• bevat geen eiergeel
• bevat geen vet
• geen rysmiddels behalwe eierwitte
• baie hoër persentasie suiker
• kremetart word by die eierwitte ingeklits sodoende die eierwitte fermer te maak sodat dit die struktuur saam met die hoë persentasie suiker, kan ondersteun tydens die bakproses

Hierdie koek se pan word NIE gesmeer nie. Die koek is veerlig en moet opklim teen die kante van die pan. Nadat die koek gebak is moet dit omgekeer word sodat die koek kan hang en so afkoel en stol. Ja, ek weet dit klink nie lekker nie, maar die tegniek verseker dat die koek sy hoogte behou.

Wanneer die koek gesny word moet dit met mes met tandjies gesny word. ‘n Gladde lem mes is geneig om die koek in mekaar te druk en kluitjie rig te maak. In die ou dae het die dames die koek met twee vurke gesny deur die vurke weerskante van mekaar te hou en die koek dan van mekaar weg te trek. Dus is hierdie ‘n uiters delikate koek om te sny.

Resep
90 g Koekmeel
30 g Mielieblom
320 g Strooisuiker
375 ml Eierwitte (12 eiers ongeveer)
7 ml Kremetart
Knippie sout
5 ml Vanielje geursel

Metode
1. Voorverhit die oond na 175 ˚C.

2. Sif die koekmeel en mielieblom twee keer saam. Voeg dan een-derde van die strooisuiker by en sif weer goed.

3. Klop die eierwitte tot sagtepunt stadium. Voeg dan die kremetart en sout by die eierwitte en klits tot stywe punt stadium.

4. Klop nou die suiker by die eierwitte (amper soos om meringue te maak) deur een eetlepel per keer by te voeg soos jy klits. Elke byvoeging moet ongeveer vir 1 minuut geklop word. Hou so aan totdat al die suiker in gewerk is. Klop die vanielje geursel in.

5. Vou die koekmeel nou in drie byvoegings by die eierwitte. Vou in ‘n figuur 8 die mengsel in en draai die bak soos jy werk, wees geduldig en werk stadig en saggies. Voeg dan weer ‘n deel van die meel by en dan die laaste deel. Skep in ongesmeerde pan. Onthou as jy nie ‘n tuipan het nie, kan jy ‘n gewone pan ook gebruik.

6. Bak die koek vir 40 – 45 minute totdat die koek gaar is. Laat die koek onderste bo afkoel. Indien jy ‘n tuitpan gebruik het wat nie voetjies het nie plaas ‘n glas in die middel op die tuit en balanseer die omgekeerde koek in die pan op die glas. Laat die koek tot yskoud afkoel voordat jy die koek versigtig met ‘n groente messe teen die kante begin los maak.

Moontlike foute wat mag insluip
Die eierwitte kan dalk te droog geklits word en dan gaan die droë bestanddele moeilik ingevou word. Wees dus baie versigtig vir oorklits.

Bron: Annelien Pienaar, 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

Print Friendly, PDF & Email
2017-04-08T19:14:47+00:00 0 Comments

Leave A Comment