Gemmerbier

Gemmerbier


Vir elke Suid Afrikaner as jy die woord Gemmerbier noem, dan kom daar erge nostalgie. Ek het gemmerbier leer drink by my Ma se oudste sussie. My Ma was ‘n laatlam en ons het nie die voorreg van ‘n ouma geken nie. Desember vakansies het ons daar by hulle gaan kuier en dan was dit koekies bak en gemmerbier by die liters wat ons verorber het. Ek kon so goed onthou my tannie kon vlot Zoeloe gepraat het en hoe ons ook geleer het om die klanke van die taal aan te leer. Op Universiteit en verdere studies het daardie agtergrond handig te pas gekom toe ons die Zoeloe taal as ‘n vak moes neem. Dus as ek Zoelie hoor of dit word Kersfees dan kan ek nie anders om aan daardie wonderlike tye en gemmerbier te dink nie.

Toe ontmoet ek ‘n wonderlike vriendin, tannie Santa Bester met die stig van my kosblad en ons deel soveel sentimente oor Boerekos en die nostalgie wat daarmee saam gaan. Sy stuur toe eendag vir my haar gemmerbier resep en dit stem ooreen met my tannie sin. Sy het haar eie gedagtes hier onder rakende die resep van Mev van Tulleken ook gegee en toe doen ek die ontdekking dat beide dames uit die Praktiese Kookboek van Mev van Tulleken werk! Ek het die resep in ‘n meer leesbare en prakties uitvoerbare eenheid verwerk…dus geniet! Voor die resep begin gaan ek net gou tannie Santa se kommentaar vir julle soos ek dit per epos ontvang het gee.

“Lief Annelien,
Hiermee die verwerking van die outydse Gemmerbier resep soos uit die Praktiese Kookboek van mev. Tullekin. My skoonma het die resep altyd gebruik en my ou geliefde staan daarby dat dit nie sy maag brand nie. Redelike tydsame proses maar die moeite werd.

Die geheim is dat jy absoluut so min as moontlik gis moet gebruik om die mos te begin. Met al die verwerkings van die rosyne het ‘n tikkie wel nodig geword. Sy ander geheim is die regte rosyne, waarvan Hanepoot loshande die lekkerste smaak gee. Maak dit al baie jare en net in Des en Januarie. Begin by Gelofte dag en sluit met nuwe jaar af. By Gelofte fees as dit ons Kerk se beurt is, word daar gevra is dit Santa se geel Gemmerbier ons soek nie die wittes nie. Sou daar dalk ‘n bottel of twee oorbly is dit nogal komies om te sien hoe waardige senior burgers in ‘n “bekgeveg” betrokke raak om ‘n bottel te kry.

Toets dit as jy tyd het en dank kan jy later die resep op ons blad plaas.”

RESEP
MOS
500 g Rosyntjies
1.5 liter Water
¼ t Kitsgis

METODE
1. Kook die rosyntjies vir 15 minute met die water. Laat die mengsel afkoel tot kamertemperatuur. Sodra die mengsel kamertemperatuur bereik het voeg die knippie gis by en stamp sommige van die rosyne stukkend en voeg terug by die mengsel.

2. Laat die mengsel staan totdat die rosyntjies bo begin dryf. Dit kan 6 – 12 ure neem om te gebeur.

BROUSEL
13 liter Water
2.5 kg Suiker
2½ e Gemmer vars, gestamp
1 e Wynsteensuur
½ k Rosyne

METODE
1. Kook die water, suiker en gemmer saam totdat al die suiker opgelos is. Laat dit afkoel tot by kamertemperatuur en voeg die wynsteensuur by. Syg die mos deur ‘n moeselien doek en voeg dit by die afgekoelde brousel (gooi die rosyne weg). Voeg nou weer rosyne by wat effens gekneus is.

2. Laat die mengsel weer oornag 12-24 staan totdat dit begin gasborrels vorm en die ekstra rosyne wat jy bygevoeg het, begin dryf. Dan weet jy die mengsel is gereed. Alle fermentasie vind by kamertemperatuur plaas en nie in die yskas nie. Sodra die mengsel gereed is kan dit gebottel word en in die yskas gestoor word.

BRON: Santa Bester se verwerking van Mev Tulleken se Praktiese Kookboek vir Suid Afrika, 1922

Print Friendly, PDF & Email
2017-03-26T14:08:39+00:00 0 Comments

Leave A Comment